TUINROETE NUUS - Die voortslepende droogte het 'n verwoestende effek op boere in die Hartenbos- en Brandwag-, asook Herbertsdale-omgewing.
En dit boonop terwyl omliggende damvlakke laag bly.
Melkboere van die plaas, Nagenoeg buite Hartenbos, sê hulle het geen water nie en ervaar die droogte intens sedert April, 2018.
Boervrou, Karien van Zyl sê haar gesin stort sedert verlede jaar nie meer by die huis nie. "Ons het nie lopende water nie en stort op die dorp. Water wat ons wel in die reënwatertenk opvang word gebruik om die toilette te spoel." Van Zyl sê hulle het ook nie gryswater nie en baie van hulle vee het weens die droogte gevrek. 'n Gebedsaksie vir reën is die afgelope week op die plaas, Gift duskant Brandwag gehou waarby minstens 50 boere betrokke was.
Waterskenkings
Goedhartige inwoners op Mosselbaai het intussen met 'n 5 liter bottle drive-projek begin. Dié inisiatief is deur die koffiewinkel in Voorbaai, Baruch's Coffee Roastery van stapel gestuur. Van Zyl sê sy het olyfbome by die eienaar, Aharon Baruch aangekoop, maar kon dit nie plant nie omdat dit te droog was. "Hy het water vir die bome geskenk en 'n 500 liter-watertenk op die plaas afgelaai sodat ons daaruit kon water pomp."
Van Zyl sê toe die eienaar verneem dat hulle selfs nie skoon drinkwater het nie, is 'n inskrywing oor die droogte op sosiale media geplaas waarna inwoners 5 liter-houers met drinkwater aan die plaas geskenk het. "Ná die inskrywing het inwoners begin om ons watertenk vol te maak en die projek het meer en meer gegroei." Die afgelope week het die Hartebeestkuildam buite Hartenbos, 2.4ml reën gekry in skreiende kontras met die Wolwedansdam se 57.4ml.
'Hel' in Herbertsdale
'n Melkboer van Herbertsdale wie se plaas aan die oewer van die Gouritzrivier lê, berig dat dié rivier in Maart 2014 laas ordentik geloop het. 'n Paar maande later het dit tot stilstand gekom. "Daarna het ons begin om van die een pomp tot by die ander pomp te pomp om 80% van ons grond te besproei. Later was dit nie meer bekostigbaar om so baie te pomp nie. Eskom is te duur en ons het twee pompe afgesit. Dit het beteken ons besproei net 50%.
"Na nog 'n paar maande begin jy swak produserende lande nie meer besproei nie en hulle word aan hul eie genade oorgelaat. Hulle moet verby kom met 'n bietjie dou en skaars reënbuie. Elke paar maande word daar minder en minder besproei tot jy besef dat jy net 15-20% van al jou grond besproei."
Onderhandelinge met regering
Woordvoerder van die Mosselbaai-munisipaliteit, Colin Puren sê hulle is bewus van die effek wat die knellende droogte op landbouers in die Suid-Kaap en veral die groter Mosselbaai het. "Die munisipaliteit se primêre taak is die voorsiening van skoon drinkwater aan inwoners in die munisipale area. Tóg gaan die benarde omstandighede van landbouers as belangrike werkskeppers in die omgewing, nie ongesiens verby nie."
Puren sê verskeie gesprekke is op die hoogste vlak met georganiseerde landbou gevoer oor wyses waarop hulle behoeftes aangespreek kan word. "Mosselbaai-munisipaliteit het reeds aanvoorwerk by die provinsiale regering gedoen om water vanaf die watersuiweringswerke vir landbouers beskikbaar te stel en meer inligting hieroor sal volg sodra uitsluitsel daaroor bereik is."
Melkbeeste van 'n plaas buite Hartenbos het duidelik min tot geen weiding.
'n Kalf op 'n melkplaas buite Hartenbos wat weens die droogte dood is.
- Lees ook 'n roerende brief van 'n boer se eerstehandse ervaring van die droogte op die brieweblad.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'