MOSSELBAAI NUUS - Op Maandag, 10 Februarie het 'n skoolsielkundige met die ouers van twee leerders by Ridgeview Primêre Skool vergader om die pad vorentoe te bespreek nadat 'n sesjarige seun na bewering verlede week op die skoolterrein geboelie is.
Die slagoffer, wat 'n graad 1-leerder is, se oor is in die voorval beseer. Tydens pouse het 'n medeleerder glo die slagoffer aan sy oor getrek.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het die skoolhoof op Dinsdag, 4 Februarie van die voorval ingelig. Na wat verneem word het die skoolhoof beide leerders se ouers ingeroep en met hulle gekonsulteer. Volgens 'n familielid is die graad1-seun nou te bang om terug te gaan skool toe. Die familielid sê hulle het gesien dat die seuntjie se oor "hang" toe hulle hom op die betrokke dag by die skool gaan haal.
Die slagoffer het nooit oor boeliegedrag gekla nie, maar volgens medeleerders het 'n ander leerder die seun se oor tydens pouse getrek. Die familielid het bevestig dat die kind na 'n plaaslike dokter geneem is, wat gesê het die swelling aan die oor sal eers moet sak voordat daar besluit sal word of die seun dalk 'n operasie sal moet ondergaan. Die skool het versoek dat 'n mediese verslag van die besering ook aan die skool voorsien sal word.
Beide leerders sal 'n program teen boeliegedrag bywoon. Die skool se ondersoek duur voort.
* Die identiteit van die familielid kan nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die slagoffer te beskerm.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'