Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport en waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het Woensdag, 20 Oktober die lang verwagte biblioteek op Brandwag amptelik geopen.
Die verrigtinge by die gemeenskapsaal, is gelei deur William Clayton. Vader Pietie Rhodes het met 'n gepaste gedeelte uit Spreuke 2:6 geopen, waarin uitgestip word dat kennis die bron van lewe is.
Kotzé het in sy verwelkoming gesê dat jongmense alle geleenthede moet gebruik om eendag suksesvol te wees. Hierdie geleenthede sluit in die nuwe biblioteek en die E-sentrum op Brandwag.
Leerders is ook die geleentheid gegee om versies en boekvoorlesings aan die gaste voor te dra.
Direkteur van gemeenskapsdienste by die Mosselbaai-munisipaliteit, Elize Nel het gesê dat hulle so ses sewe jaar gelede die versoek vir 'n biblioteek op brandwag aan die provinsiale regering gestuur het. Na vele onderhandeling en vergaderings is die fondse in die 2019/2020-boekjaar beskikbaar gestel en is die grond ook aan die munisipaliteit oorgedra.
FOTOGALERY: Nuwe biblioteek op Brandwag
Nadat daar twee tenders uitgegaan het, is 'n kontrakteur aangeste. Bouwerk moes egter 'n tyd lank as gevolg van Covid-19 gestaak word .
"Ons is vandag baie trots en baie dankbaar dat ons vandag die nuwe biblioteek kan inwy vandag," sê Nel.
VIDEO: Brandwag spog met nuwe biblioteek
In haar toespraak het Marais die personeel van haar departement, distrik en die munisipaliteit bedank vir hul passie en toegewydheid.
"Die Wes-kaap se biblioteekdienste is die grootste in Suid-Afrika en Afrika. Die Wes-kaap het meer as 20% van alle openbare biblioteke in die nege provinsies," sê Marais. Marais vertel verder dat die Wes-Kaap ook die grootste aantal boeke en sirkulasie van boeke het en boonop boeke in Engels, Afrikaans en isiXhosa bevat.
Raadslid Annatjie van Rensburg het die bedankings behartig en met trane in haar oë gesê dat Brandwag se kinders haar baie na aan die hart lê.
Al die rolspelers is vanaf die gemeenskapsaal na die biblioteek, waar Marais en Kotzé amptelik die lint geknip het om die biblioteek seremonieel te open.
Ter afsluiting het Marais aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat so 'n biblioteek die gemeenskap bymekaarbring.
"Ek glo die gemeenskap gaan dit gebruik en mooi daarna kyk."
Rolspelers in die tot stand koming van die nuwe Brandwag-biblioteek. Foto's: Jannie du Plessis
Die reuk van nuwe boeke was opvallend toe die gaste die nuwe Brandwag-biblioteek besoek.
Die Brandwag-biblioteek wat amptelik op Woensdag, 20 Oktober in gebruik geneem is. Foto: Jannie du Plessis
Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, me Anroux Marais. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'