MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers ken hom. Misdadigers ook.
Speurhoof Albertus Bernardus (Tekkie) van Rensburg, stuurman van die Mosselbaai-polisie se speurafdeling, tree na 42 jaar diens in die polisie af.
Van Rensburg se laaste werksdag was op Dinsdag, 27 Februarie.
Mossel Bay Advertiser-joernalis, Louise Karsten het met Van Rensburg gesels oor sy toekomsplanne en sy aftrede:
Hoe voel jy oor jou aftrede?
Daar is maar baie emosies. Ek wou nie nou al gaan nie, maar ek was op 27 Februarie vanjaar 60 jaar oud en dit is die aftree-ouderdom in die polisie.
Hoeveel jaar was jy in die polisiediens?
Ek tree af na 42 jaar diens in die polisie waarvan ek 41 jaar en ses maande ‘n speurder was.
Watter sake staan vir jou uit?
Daar was baie hoogtepunte en ek was bevoorreg om baie hoëprofielsake suksesvol te ondersoek. Die soeke na die waarheid bly ‘n uitdaging en soms het die waarheid die aanvanklike verdagte kwytgeskeld.
Wat beplan jy na jou aftrede?
Ek het al 22 jaar ook ‘n leerbedryf wat uit ‘n stokperdjie ontstaan het. Ek het die afgelope vyf jaar ‘n leerwinkel waar kwaliteit leerhandwerk verkoop word.
Ek gaan ons land ook verken en kamp graag. Ek sal graag meer see toe wou gaan met my boot en my ander passie is rolbal.
Tydens een van die afskeidsfunksies het ‘n spreker opgemerk dat die organisasie my nou aan my familie teruggegee het.
Ek sal dus meer tyd met my familie en my vier kleinkinders deurbring.
Wat is jou boodskap aan jou kollegas?
Kollegas u het nou al agtergekom u is in ‘n roeping. Leef dit uit en volhard tot die einde.
Moenie toelaat dat u in iemand se geldsak beland nie, want daarna sal jy nooit jou werk vreesloos kan uitvoer nie.
Hoe meen jy het die polisiediens jou al die jare behandel?
Die lewe in die polisie is maar ‘n roller coaster ride. Die onvoorsiene en misdaadgebeure bepaal jou dag.
As ek weer moet kies sal ek tog weer ‘n speurder wil wees met klein verstellings hier en daar. Deur die genade kon ek die wedloop voltooi.
Hoeveel kinders en kleinkinders het jy?
Ek het vier pragtige dogters waarvan sommige al getroud is. Ek het agt kleinkinders vir wie hierdie oupa baie lief is.
Gaan jy die SAPD mis?
Ek gaan die kameraadskap in die polisie mis. As ek by enige polisiestasie in die land aandoen en myself identifiseer sal ek soos eie huisfamilie behandel word. Dit gebeur nie sommer by ander instansies nie.
Die gedrukte media het tydens my 42 jaar diens ‘n belangrike rol gespeel in die opspoor van baie verdagtes en die insameling van inligting. Ek bedank u daarvoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'