MOSSELBAAI NUUS - Die gewilde Mosselbaai-blommeskou vind weer hierdie jaar vanaf 12 tot 14 Oktober in die Dias Museum plaas.
Daar sal weer afdelings vir alle plant entoesiaste wees, maak nie saak of dit malvas of eksotiese orgideë is nie. Vir elke blom en blaar is daar ' n kategorie en die beste van alles – dis gratis om in te skryf en puik pryse kan gewen word!
Amateur-blommerangskikkers kan ook weer hierdie jaar inskryf. Hierdie kompetisie groei beslis en dit bied die ideale platform om groeiende talent ten toon te stel. Die standaard van 2017 se inskrywings was baie hoog en moderne sowel as tradisionele tegnieke, het groot byval by die publiek en beoordeelaars gevind.
Die uitstalling in die Graanskuur beloof om hierdie jaar iets baie besonders te wees omdat die area opgedeel gaan word om besighede, kwekerye, tuinbou-klubs en individue se inskrywings om verskillende tuine voor te stel, uit te beeld. Tuine soos vetplante, tuine in potte, waterwys-tuine, inheemse en selfs groentetuine kan deel van hierdie uitstalling uitmaak. Advertensieborde mag dan ook hier geplaas word om die "groen vingers" van besighede as bemarkingsgeleentheid te laat benut.
Begin nou al beplan en skryf in voor 15 September. Inligting en navrae kan gerig word per e-pos aan mbflowershow@gmail.com of deur 082 357 4549 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'