Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om 'n man te sien huil oor 'n siek en beseerde hond is iets wat enige diereliefhebber tot trane sal dryf.
Met hierdie passie vir diere het twee plaaslike inwoners dit hulle missie gemaak om diere in nood in die gemeenskap te help en om fondse en kos in te samel vir die versorging van die diere.
Project Blessing, 'n geregistreerde nie-winsgewende besigheid met Anton Siebert en Michelle Smit aan die stuur, het die afgelope Saterdag, 21 Januarie 'n funksie by die Bahia Blue restaurant by die Diaz Hotel gehou om geld in te samel.
Siebert was tweede prins in Mnr Suid-Afrika 2021 en Smit was tweede prinses by verlede jaar se Mej Eden SA skoonheidskompetisie. Hierdie jaar is sy aangewys as die Mej Westelike Provinsie Ambassadeur.
Die paartjie het so 'n jaar en 'n half gelede die projek begin waar hulle in die gemeenskap ingaan en na die diere gaan kyk. Hulle gee kos, sit loopdrade op, neem siek diere veearts toe, rig hokke op en leer die gemeenskap hoe om die diere te versorg.
Dier in nood
Skaars was die funksie verby en met die bietjie geld in die hand was daar weer 'n dier in nood. Met 'n besoek by 'n huis, het die eienaar laat blyk dat hy nie meer weens omstandighede, sy hond kan versorg nie. Siebert en Smit ken die betrokke hond al twee jaar lank wat hulle gereeld by die eienaar gekom het en het baie lief geword vir die hond.
Blom is 'n teefhond en het geboorte geskenk aan agt pragtige hondjies. Sy het bytwonde aan die maag en kop gehad en moes steke kry.
Uitroep-tariewe oor die naweek en medikasie vir Blom het dadelik die inkomste van die naweek-projek opgebruik.
Die maagwond kan egter nie steke kry nie aangesien sy volgens die veearts infeksie sal opdoen. Siebert en Smit bly in 'n kompleks en die paartjie moes noodgedwonge tydelike blyplek vir Blom en haar kroos kry. Hulle het by Dog Box in die Moss Industriële area reggekom. Die kostes om Blom daar te versorg, is egter meer as wat tans beskikbaar is.
Met gereelde besoeke na Dog Box kon Siebert egter nie die trane terughou toe hy Blom roep en sy met tjankgeluidjies en stertswaaiend vir Siebert begroet.
Nou word daar ernstig gesoek vir 'n goeie huis vir Blom en haar kroos tot die volgende krisis opduik met 'n dier in nood wat byna daagliks gebeur.
"Ons sit tans met ongeveer 30 medium tot groot babahondjies wat van 'n week tot ses weke oud is en wat 'n huis soek. Die kwessie van sterilisering kort ook dringende aandag maar Project Blessing benodig die ondersteuning van die gemeenskap," sê Smit
Indien enigiemand die paartjie se passie vir diere wil ondersteun, kan hul gerus vir Smit kontak. (073 361 7074). Project Blessing, Nedbank, rekening nommer 1226884660, takkode 14720500 met enige verwysing.
VERSKAFDE VIDEO:
Blom met haar kroos van agt.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'