MOSSELBAAI NUUS - Gerhard Ferreira het dalk sy sig verloor, maar beslis nie sy vermoë om die humoristiese in die lewe raak te sien nie.
En dit, doen hy by uitenemendheid. Gerhard het Dinsdag sy boek, Ons moet spoeg om te sien hoekom ons nie kan sien nie, by die Hartenbos-biblioteek bekendgestel.
Een van drie kinders, het beide hy en sy suster retinitis pigmentosa, 'n siekte wat sig degenereer en in beide van hulle blindheid veroorsaak het. Sy jongste broer, skerts die spitsvondige Gerhard, "kan lees sonder 'n bril".
Gerhard was voorheen 'n rekenaar- programmeerder en is 'n bekende motiveringspreker. Hy het die Comrades- asook ander marathons kafgedraf.
Ook vir Berg Kilimanjaro het hy nie teruggedeins nie en selfs vir 'n tog na die Berg Ama Dablam-basiskamp in die Himalajas kans gesien.
Tydens Dinsdag se bekendstelling het Gerhard vertel dat hy en sy gesin so normaal as moontlik geleef het en selfs 'n karavaan is aangeskaf. Sy talle staaltjies het die gehoor Dinsdagoggend kort-kort aan die lag gehad.
"Ek is nie 'n skrywer nie. Ek is eerder 'n storieverteller en 'n entertainer.
"Ek hou daarvan om mense te laat lag." Sy kinders het hom gevra om van sy staaltjies neer te skryf, sodat hulle kinders dit eendag ook kan geniet. "Toe alles neergeskryf is, het ek regtig met 'n storielyn gesukkel." Uiteindelik, het sy vrou Ina gesê hy het iets beet, waarmee hulle toe na Naledi-uitgewers is wat die groenlig gegee het. Die boek is nou al in sy tweede druk.
Gerhard se volgende boekbekendstelling is op 22 Februarie by die Monroe Teater om 18:30.
Belangstellendes kan Joan kontak (082 415 9855). Sitplek is beperk, dus is besprekings noodsaaklik.
"Bring gerus 'n piekniekmandjie en kom kuier lekker saam."
Gerhard Ferreira is 'n uitstekende storieverteller.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'