MOSSELBAAI NUUS - 'n Siggestremde man, wat die afgelope jaar gereeld op Mosselbaai kuier en besluit het om hier te hervestig, sukkel om verblyf te kry. Dit blyk nie vanweë onbekostigbaarheid te wees nie, maar omdat verhuurders glo nie kans sien om sy gidshond te akkommodeer nie.
Corrie Brits werk sedert 1 Oktober in Mosselbaai. Hy het aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat hy by ongeveer agt plekke navraag oor verblyf gedoen het.
"Almal is elke keer opgewonde as hulle hoor ek is enkellopend. Sodra hulle dan hoor ek het 'n gidshond, is dit asof ek 'n vloekwoord gesê het," het Corrie verlede week aan die Advertiser vertel.
Volgens Corrie het sy soektog elke keer op 'n dooie punt uitgeloop aangesien verhuurders nie sy gidshond, Melvin wil aanvaar nie.
Pieter van Niekerk, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse gidshondvereniging het by navraag gesê dat hulle gidshondeienaars voorsien van 'n brief waarin spesifiek aan eienaars van huureiendomme verduidelik word wat die verskil tussen 'n hond as 'n troeteldier en 'n gidshond is, juis om gevalle van onregverdige diskriminasie te voorkom. Die vereniging het verlede week hulle werkshondtoegangsprogram bekendgestel. Dit is juis gedoen met die oog daarop om vryer toegang in die hand te werk vir diegene wat van die vereniging se gidshonde gebruik maak.
Woonkomplekse
Die Advertiser het 'n plaaslike eiendomsagent genader oor wat iemand in Corrie se posisie te doen staan en wat sy regte in hierdie geval is. Die navraag is ook na 'n regskenner verwys. Volgens die Deeltitelwet, kan die beheerliggaam van 'n woonkompleks nie onredelik hulle toestemming om 'n gidshond te akkommodeer, weerhou nie. Daar word spesifiek verwys na die uitspraak in 'n hofsaak - Body Corporate of The Laguna Ridge Scheme No 152/1987 v Dorse 1999 (2) SA 512 (D) - waarin die hof gelas het dat die trustees van die beheerliggaam verplig is om elke versoek om 'n troeteldier aan te hou, individueel te beoordeel.
Die besluit om 'n aansoek te weier moet dus op die feite en omstandighede van 'n bepaalde geval berus. Die beheerliggaam moet die tipe troeteldier in oorweging neem. Die enigste rede waarop 'n beheerliggaam kan besluit om 'n dienshond, soos 'n gidshond in 'n woonkompleks te weier, is wanneer daar bewys gelewer is dat die hond 'n stoornis is vir ander inwoners, soos deur 'n aanhoudende geblaf of indien die dier gevaarlik is.
Eienaars se regte
Wetlik, mag verhuurders nie huurders verwerp of weier op grond van gestremdheid nie, maar geniet hulle dieselfde regte as ander aansoekers.
Hoofstuk 3 van die Wet op Huurbehuising bepaal dat wanneer 'n woning geadverteer word vir verhuring of wanneer daar om verhuring onderhandel word, daar volgens die wet nie onregverdig teen voornemende huurders of enigiemand in hulle huishoudings gediskrimineer mag word op grond van verskeie aspekte nie. Dit sluit gestremdheid in.
Volgens hierdie wet moet die verhuurder hulle bes doen om die voornemende gestremde huurder te akkommodeer, maar enige veranderinge aan die huureiendom is egter vir die huurder se rekening.
Dit mag egter, ten spyte van wat hierdie wet stipuleer, problematies wees om die eienaar van 'n huureiendom te verplig om te verhuur. Die Advertiser het voorheen daaroor berig dat eienaars van huureiendomme ook al geweier het om aan voornemende huurders met kinders en honde wat as gewone troeteldiere aangehou word, te verhuur.
Konstitusionele reg
Ingevolge die Grondwet, mag niemand, insluitend die staat, direk of indirek, onregverdig diskrimineer teen enigiemand op grond van verskeie aspekte, inlsluitend gestremdheid nie. Diskriminasie insigself word nie verbied nie, maar onregverdige diskriminasie op grond van gestremdheid wel. 'n Voorbeeld van regverdige diskriminasie sou wees, indien rook in die huureiendom verbied word en die voornemende huurder 'n gestremde persoon is wat rook.
Sou die verhuurder die voornemende huurder afkeur op grond van siggestremd en die noodsaaklikheid van 'n gidshond is dit 'n skending van 'n konstitusionele reg is.
Toegangsregte
Teen druktyd was Corrie Brits steeds genoop om tydelik tuis te gaan by sy vriendin Amanda Bester, ook siggestremd. Amanda bly tans by haar ma. Amanda en haar gidshond, Reo het in Oktober 2018 in die geykheidshof in Kaapstad geskiedenis gemaak vir die toegangsregte van mense wat bygestaan word deur gids-, diens- of ondersteuningshonde. In Augustus 2017 is Amanda en Reo toegang tot die kantoor van binnelandse sake op Mosselbaai geweier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'