MOSSELBAAI NUUS - Dit is nie aldag dat Mosselbaai 'n weerligskouspel het nie. Inwoners het verskeie foto's van weerlig geneem nadat 'n bui reën die afgelope naweek oor die gebied uitgesak het.
Wayne Venter, 'n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die afgelope naweek se weerlig en donderstorms is veroorsaak deur 'n afsny laagdrukstelsel. 'Hierdie sisteme kom gewoonlik voor in Maart en April en is groot laagdrukstelsels, wat baie onstabiele lug veroorsaak en dan verspreide donderstorms meebring."
Venter sê hierdie tipe laagdruksisteme is ook verantwoordelik vir die grootste vloede en storms in Suid-Afrika soos die Laingsburg vloede in 1981 en die KwaZulu-Natal vloede in 2022.
"Gelukkig het hierdie sisteem wes van die land gebly. Goeie reën het op verskeie plekke geval wat dele van die Karoo, Klein-Karoo asook die Tuinroete insluit."
Volgens Venter is tussen 10mm en 30mm in die Tuinroete opgevang. Mossel Bay Advertiser lesers het laat weet dat minstens 18mm op Danabaai neergesak het en minstens 20mm op Tergniet.
Mosselbaaiers kan volgens Venter 'n sterk oostewind op Vrydag, 29 Maart, te wagte wees.
"Teen die naweek word matige weerstoe-stande verwag. Saterdag sal dit 22°C wees en Sondag 26°C grade. Sondagmiddag behoort die wind in Mosselbaai weer op te tel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’