MOSSELBAAI NUUS - 'n Binnenshuise gholftoernooi word binnekort vir die eerste keer op Mosselbaai aangebied.
'n Mosselbaai-fasiliteit wat gholftegnologie naboots bied die geleentheid aan en 'n gedeelte van die opbrengs word ook aan die Burgemeestersfonds geskenk.
Die toernooi vind van 2 tot 4 Oktober plaas en dien ook as 'n besigheidsnetwerkgeleentheid wat oop is vir deelname van plaaslike besighede en hul kliënte.
Gholfnabootsers is 'n manier om die spel weg van 'n baan te oefen, en bestaan uit 'n stel sensors en rekenaarsagteware wat gebruik word om die bal se vlug te volg en terugvoer oor die speler se swaai te gee.
Deur gedetailleerde ontledings oor hul swaaie, die vlug van die bal en afstande te verskaf, bied dié nabootsers insigte om spelers te help om hul vaardighede te verfyn.
'n Kamera, wat deur die bogenoemde fasiliteit gebruik word, het die vermoë om 40 000 beelde per sekonde op te spoor, en teken spelers se bewegings intyds aan.
Die nabootsers het 300 bane vir spelers om van te kies terwyl hulle met eie toerusting en balle houe kan uitvoer.
Die geleentheid is nie net vir deelnemers om te vermaak nie, maar ook om met hul sakevennote te netwerk en op 'n gholfbaan oor die wêreld te speel, maar wat eintlik net 'n entjie se ry van meeste kantore af is.
Die burgemeester se hulp- en liefdadigheidsfonds word aangewend om jongmense wat vir hul skole gekies word om op provinsiale vlak mee te ding, maar nie benodigdhede en reiskoste kan bekostig nie, gevalle waar 'n huis afgebrand het en 'n persoon in nood gelaat word en NWO's wat hulp nodig het met verskeie projekte om die gemeenskap op te hef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’