GHOLF NUUS - ‘n Pragtige dag het Mosselbaai-gholfklub se spelers op Woensdag, 6 Julie begroet. Bounty Wildsverwerking het weer eens die 156 spelers met ‘n heerlike geborgde dag begroet.
Heinrich Sandilands het van sy beste gholf ooit gespeel.
Sy 45 punte in die individuele "Stableford"-kompetisie het gesorg dat hy sy naaste teenstanders ver agter gelaat het.
Drie spelers het op 39 punte nog teenstand probeer bied, maar Heinrich se telling was onaanvegbaar. Die nimlike Oosie Oosthuizen, gesoute veteraan, het op 39 punte die uittelstryd teen Stefan van Vuuren en Danie Venter, suksesvol gewen.
Die vyfde plek is deur nog ‘n veteraan, Martiens Mulder, ingepalm.
Die paadjie prystafel toe is ook deur Klaas Kotzé (38 punte), Nic Marais (37 punte) en Gail Botha (37 punte) bewandel.
Saterdag
Ten spyte van al die rugby-uitsendings wat Saterdag, 9 Julie plaasgevind het, het daar nog ‘n horde spelers opgedaag. Dawie Gouws en Willie Roux het as span goed kombineer en het 45 punte in die beterbal "Stableford"-kompetisie aangeteken. Hulle was eerste oor die wenstreep met Roelof Engelbrecht en André Middel, ook 45 punte, die naaswenners.
Verdienstelike tellings (43 punte) is ook deur Danie van Langelaar en Armin Kade, asook Barend Kotzé en ons talentvolle junior, Sam Gouws, aangeteken. Klaas Kotzé en Wynand Liebenberg se 41 punte het ook gesorg dat hulle met ‘n heerlike braaipak huiswaarts kon keer.
Mosselkraker-kompetisie
Bill Denyer het op Vrydag, 8 Julie breed geglimlag toe hy in die Mosselkraker-kompetisie op die agtste putjie ‘n kolhou behaal het. Hy het ook in 2010 hierdie prestasie behaal en ‘n derde kolhou blyk nog steeds binne sy vermoë te wees. Veels geluk Bill.
Die trekking vir ons uitkloptoernooi is op die kennisgewingbord. Vergewis jouself van die datums wanneer rondtes voltooi moet word. Die eerste rondte moet teen einde Julie voltooi wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'