MOSSELBAAI NUUS - Soos hulle tydens die Covid-19-grendeltyd gereeld begin doen het, is die Mossel Bay Prayer Walk verlede naweek weer strate toe om onder meer die vlaag van moorde op Mosselbaai aan te spreek.
Die Mossel Bay Prayer Walk het in vlak 4 van die grendeltyd in 2020 begin deur opelugsamekomste te reël, waartydens hulle deur die strate met kleurvolle vlae gestap het of op openbare plekke gebid en lofprysingsmusiek gespeel het.
Die groep is interkerklik en bestaan uit lede van onder meer die Anglikaanse, Rooms-Katolieke, die Verenigde Gereformeerde Kerk, asook die Volkskerk van Afrika en Pinksterkerke.
Die groep het Sondag byeengekom by die KwaNonqaba-polisiestasie om oor verskeie kwessies te bid.
Volgens een van die groep se lede het dit ingesluit die toestande by die stasie, die vlaag van moord en ander misdaad, asook die voorkoms van selfdood binne die gemeenskap.
Onder die teenwoordiges was ook enkele kinders wat graag aan die gebedsaksie wou deelneem.
Romay, Amoray, Caleb en Walita wou deelneem aan die gebedsaksie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'