MOSSELBAAI NUUS - Met die sneeu wat Dinsdag oor die Wes-Kaapse berge geval het, het die winterkoue sy tande ook diep in Mosselbaai en omstreke geslaan. Maar, inwoners kan gereed maak vir 'n warmer week wat voorlê aangesien temperature op Mosselbaai vir die volgende paar dae na die middel twintigs sal styg.
Dié wat graag sneeuballe wil vorm, sal hulle egter teen vandag, Vrydag, 6 Julie na bergpasse moet haas om steeds die sneeu te kan sien.
'n Weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Wayne Venter sê die sneeu gaan vinniger smelt as wat dit normaalweg sou, omdat die binneland warm is. "Die sneeu was teen Woensdag nog dik, maar sal teen vandag minder of selfs weggesmelt wees omdat die wind vanaf die binneland na die kus daal."
Venter sê dit veroorsaak dat die temperatuur aan die kusgebiede warmer raak omdat die temperatuur 1 graad styg vir elke kilometer wat die wind na die kus daal.
Die weerdiens voorspel mooi weer en sonskyn vir die naweek op Mosselbaai met temperature wat tot in die middel 20's sal styg. Inwoners kan 'n reënbui op Dinsdag, 10 Julie verwag.
Intussen moedig owerhede mense aan om steeds, ten spyte van die rëen wat oor die Wes-Kaap geval het, water spaarsamig te gebruik.
Inwoners van Mosselbaai het na die Swartbergpas gery om sneeu te sien. Mossel Bay Advertiser fotograaf Mandie Black het die foto geneem.
Munisipale bestuurder, Thys Giliomee sê die Wolwedansdam se laaste lesing is op Maandag, 2 Julie geneem en het op 81.66% gestaan. "Verlede jaar dieselfde tyd was die damvlak op 77.51%."
Intussen sê die uitvoerende bestuurs-hoof van Mosselbaai Toerisme, Aneli Gerber, die onlangse droogte in die provinsie het geen negatiewe impak op die dorp se toerisme bedryf gehad nie.
"Mosselbaai is in so `n bevoorregte posisie om watersekuriteit te hê en ons is dankbaar hieroor. Ons dorp is die ideale huis-weg-van-jou-eie-huis-bestemming waar vakansiegangers kan kom uitspan om bietjie weg te breek van die spanning oor die droogte."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'