Bure naasliggend aan die gebou is ook bekommerd oor hul veiligheid omdat vandale glo aggressief reageer wanneer hulle oor hul optrede gekonfronteer word. Inwoners meen dit is onveilig om na sononder in die omgewing te loop, omdat gure karakters daar uithang. Voorts het die verval van die gebou negatiewe impak op die waardasie van naasliggende eiendomme.
Mnr. Johan van Rensburg van die Mosselbaai Spesiale Aanslag Gebied (SAG) meen dat daar rede tot kommer is. Die besighede in die onmiddellike omgewing het die saak aanhangig gemaak by die SAG, wat op hul beurt die Direkteur van Gemeenskapsdienste, mnr Puren, daaroor gekontak het. SAG is 'n maatskappy wat onlangs tot stand gekom het met die doel om die sentrale sakekern op te gradeer deur spesiale heffings op die eienaars van vaste eiendom binne die gedefinieerde area.
"Die verval, veral van staatsgeboue, wat die beleggingswaarde van omliggende eiendomme negatief beïnvloed, is onaanvaarbaar. Die SAG het op versoek van sommige besighede 'n sekuriteitswag by besighede in Marshstraat ontplooi, wat 'n onmiddellike impak gehad het, en die twee sekuriteitswagte by die Punt werp ook vrugte af.
Hoewel die verval van eiendom die verantwoordelikheid van die onderskeie eienaars is, is die munisipaliteit verantwoordelik om te waak teen die morele verval op die dorp," het mnr Van Rensburg aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Hy sê SAG gaan vanaf Desember meer sekuriteit in Marshstraat ontplooi.
Munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, sê, "Die Munisipaliteit het 'n kennisgewing ingevolge Artikel 12 van die Nasionale Bouregulasies op die Departement Openbare Weke bedien, na aanleiding van die brand wat skynbare strukturele skade aan 'n gedeelte van die gebou aangerig het. Daarvolgens moes hulle 'n strukturele ingenieur aanstel om die munisipaliteit van 'n verslag te voorsien.
Die keerdatum het reeds verstryk, en regsoptrede word nou oorweeg. Die munisipaliteit het die Departement ook aangespreek oor die nie-voldoening aan brandbeheerregulasies, terwyl 'n inspeksie uitgevoer sal word om vas te stel of die gebou aan die munisipaliteit se verordening insake openbare oorlaste voldoen of nie.
"Die munisipaliteit is hierdie week deur Openbare Werke meegedeel dat die tender vir die herstel van die brandskade aan die gebou op 24 Oktober sluit, en dat die herstelwerk teen die einde van November 'n aanvang behoort te neem.
"Die munisipaliteit het nie die jurisdiksie om teen sogenaamde rondlopers op te tree wat aggressief teenoor die publiek optree nie. Die publiek moet die Polisie ontbied of 'n klagte lê indien van die mense daar optree op 'n wyse wat hul persoonlike veiligheid bedreig."
"Die polisie sê hulle kan niks daaraan doen nie, slegs die eienaars van die gebou kan," aldus 'n brief deur 'n leser, mev. A. de Jager.
Ander geboue waaroor kommer bestaan, is die ou woning op Louis Fourieweg wat jare gelede as burgemeesterswoning gebruik is. Hierdie vervalle gebou is tans die onderwerp van 'n siviele regsgeding.
Kommer word ook uitgespreek oor die toestand van die Dias Woonwapark en die ou restaurant op De Bakke. Die De Bakke restaurantgebou is oor die laaste paar jaar verskeie kere herstel, maar loop gereeld onder vandale deur. 'n Nuwe tender vir die verhuring van die gebou vir gepaste besigheidsdoeleindes, opgradering en sekuriteit, vir die rekening van die suksesvolle tenderaar, sluit vandag.
Wat die Dias Woonwapark betref, is ontwikkelingsvoorstelle aangevra met die keerdatum 31 Augustus. Dit is plaaslik en nasionaal geadverteer, en die voorstelle wat ontvang is, word tans verwerk, waarna dit aan die Raad vir verdere oorweging voorgelê sal word.

Die verval by die ou Sportskool is skokkend en gee omliggende eienaars hoofbrekens omdat vandale daar aggressief optree wanneer hulle aangespreek word. Foto: Mandie Black

Toestande soos hierdie by die ou Sportskool is rede tot kommer, en inwoners vrees veral gesondheidsgevare wat knaagdiere deur peste kan versprei. Foto: Mandie Black

Mosselbaaiers is bekommerd oor die verval van 'n huis neffens Louis Fourieweg wat eens 'n burgemeester gehuisves het. Vandale en leeglêers hang hier rond en is volgens die SAPD 'n sekuriteitsrisiko. Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS