MOSSELBAAI NUUS - Die waarnemende bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, kol Mark Hartzenberg het hom vandeesweek uitgelaat oor die geweld by skole. In minder as twee dae, is twee leerders aan dieselfde skool in onverwante voorvalle dood. Hy het spesifiek verwys na veiligheid by skole.
"Die voorval waarin 'n leerder van Hillcrest Sekondêre Skool op die skoolgronde nootlottig beseer is word betreur," het kol Hartzenberg gesê. Hy het sy dank uitgespreek oor die feit dat die aanvallers in hegtenis geneem is en gesê dat hulle verantwoording vir hul dade sal moet doen.
"Geweld by skole is kommerwekkend en gevaarlike wapens word streng verbied.
Die grootste gevaar van hierdie aanvalle is egter weerwraak, asook die moontlikheid van verdere aanvalle en beserings wat deur onskuldige leerders en onderwysers opgedoen kan word in die proses."
Volgens kol Hartzenberg het die polisie toegewyde personeel wat skole in die groter Mosselbaai op 'n gereelde basis besoek. Hierdie personeel identifiseer probleme en spreek dit aan in samewerking met die Wes-Kaapse department van onderwys, skoolhoofde, asook medewerkers van die Safe Schools-program. Daar is ook 'n veiligheidsforum waarop skoolhoofde saam met die polisie vergader om voorkomende optrede in die hand te werk.
"Die gemeenskaps-polisieforum van elke stasie het ook 'n mandaat en verantwoordelikehid om in samewerking met skoolpersoneel, skoolbeheerligame en buurtwagte gewelddadige gedrag aan te spreek. Daar moet 'n groter dringendheid wees om 'n permanente oplossing te vind ter wille van die groter meerderheid leerders wat hul loopbane wil beplan en bevorder. Daar is verseker 'n baie groot behoefte van groter betrokkenheid van ouers by skole om veiligheid te bevorder, asook om leerkragte te ondersteun."
Kolonel Hartzenberg het bevestig dat die polisie reeds besig is om ondersoek in te stel aangaande groeperings of bendebedrywighede wat die oorsaak of bydraend is tot die geweld wat tans by skole aan die gang is. "Die nodige verdere optredes sal volg, dienooreenkomstig.
"Ons steun ook tans op plaaslike buurtwagte om sigbaarheid gedurende hierdie tydperk by Hillcrest Sekondêre Skool te verseker. Die samewerking van alle belanghebbendes is beslis noodsaaklik om soortgelyke tragedies te verhoed en 'n veilige omgewing in skole te skep vir behoorlike opvoeding."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'