MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee het vanoggend met lede van die bevelstruktuur van die SA Polisie in die Suid-Kaap onder leiding van Generaal-Majoor Oswald Reddy vergader.
Verskeie besprekingsunte was op agenda, onder meer die onaanvaarbare vlakke van geweldsmisdaad op skoolterreine en waarin die jeug geteiken word.
Kommer oor die toeganklikheid van dwelms vir jongmense en bendeverwante optrede is uitgespreek.
Daarbenewens is die belangrikheid van die ondersteuning vir die buurtwagstelsel en plaaswagstelsel aangespreek.
Die infrastruktuurprobleme en personeeltekorte by polisiestasies soos KwaNonqaba en Groot-Brakrivier is toegelig.
Generaal Reddy, Kol Johnny Stripp, Kapt Ernst Christians en Kapt Malcolm Pojie is ook ingelig oor die munisipaliteit se Seisoenmoniteringsprogram wat daagliks tydens die somervakansie na diensleweringsknelpunte omsien.
Die Seisoenmonitering is 'n voortsetting van die weeklikse dienstemonitering wat gedurende die res van die jaar dienslewering monitor en probleme uitklaar. Mosselbaai is waarskynlik die enigste munisipaliteit in die land wat hierdie moniteringstelsel bedryf.
Die munisipaliteit se uitvoerende bestuur het ook reeds vroeër vandeesweek met die kantoorhoof van die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, Gideon Morris geskakel om 'n volledige risiko-analise ten opsigte van skoolveiligheid te onderneem.
"Die jeug en ons gemeenskap se veiligheid is vir die munisipaliteit uiters belangrik. Die munisipaliteit het verskeie strukture wat na gemeenskapsveiligheid omsien, onder meer ons Brand en Rampbestuursdienste, maar kan nie veiligheidskwessies aanspreek sonder die samewerking van die SA Polisie nie. Goeie onderlinge samewerking is daarom uiters belangrik.
"Ons bedank die SA Polisie vir hul vinnige optrede en deeglike ondersoek na die jongste voorvalle by 'n plaaslike sekondêre skool wat tot die arrestasie van verskeie verdagtes gelei het," het die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee na afloop van die vergadering gesê.
Hy het bygevoeg dat die polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum en buurtwagte die op die samewerking en ondersteuning van die munisipaliteit kan staatmaak in hul taak om misdadigheid te bekamp en inwoners van 'n veiliger omgewing te verseker.
Raadsheer Harry Levendal (voor regs) en munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee (voor links), het vandag met die SA Polisie Suid-Kaap Bevelstruktuur, Generaal Reddy (voorste middel) Kol Johnny Stripp, Kapt Ernst Christians en Kapt Malcolm Pojie vergader. Die adjunk-uitvoerende burgemeester, Raadsheer Dirk Kotzé (derde van links, agter) en die voorsitter van die portefeuljekomitee vir veiligheid, raadslid Anton Dellemijn (vierde van regs, agter), en die voorsitter van die Mosselbaai-gemeenskapspolisiëringsforum Leon van Dyk (agterste middel) en direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel en uitvoerende bestuurder strategiese dienste, Colin Puren, (heel regs agter) was ook teenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'