Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Beurtkrag het nie net 'n effek op Mosselbaai se inwoners en besigheidseienaars nie, maar ook op die Mosselbaai-munisipaliteit.
Die munisipaliteit lei weens beurtkrag aansienlike verliese en staar 'n tekort van tot R44 miljoen in die gesig wat die operasionele begroting betref, volgens burgemeester, Dirk Kotzé.
Kotzé sê in 'n video wat die afgelope week op die munisipaliteit se Facebook-blad gedeel is, dat 1,1miljoen minder eenhede elektrisiteit die afgelope vakansieseisoen in Mosselbaai verbruik is. Dit is gelykstaande aan 'n verlies van R2,3 miljoen.
In sy toespraak op Donderdag, 23 Februarie tydens die eerste raadsvergadering vir die jaar, het Kotzé die energiekrisis as ons eie ramp beskryf.
Hy het gesê weens beurtkrag wat veral sedert Junie 2022 na hoër fases geëskaleer het, het die munisipaliteit 'n verlies van R35 miljoen gely weens die verminderde verkoop van elektrisiteit van Julie 2022 tot Januarie 2023.
"Tans verkoop ons minder as 31 000 eenhede per uur wat 'n inkomsteverlies van R75 000 per uur tot gevolg het."
Kotzé het gesê net soos die meeste ander munisipaliteite in Suid-Afrika, steun Mosselbaai se munisipaliteit swaar op die verkoop van energie.
"Vir hierdie rede staar ons 'n toekomstige krisis in die gesig." Kotzé het gesê hoe langer hulle vat om met 'n werkbare oplossing vorendag te kom, hoe meer kliënte verloor hulle. "Dit is die rede vir ons onwilligheid om verbruikers af te sny van die enigste substasie wat aanbly."
Kotzé het bygevoeg dat hulle nie vrede kan maak met hierdie tekorte wat bloot 'n verdere las op die belasting van eiendomseienaars word nie, wat volgens hom in werklikheid geen ekstras ontvang in ruil vir hulle reeds swaar belastinglas nie."
VIDEO - UItvoerende burgemeester, Dirk Kotzé verduidelik waarom kragvermindering op 3 Maart begin.
VIDEO - Uitvoerende burgemeester, Dirk Kotze, verduidelik waarom kragvermindering gedoen moet word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'