MOSSELBAAI NUUS - Daar sal na verwagting gedurende die vakansieseisoen geen meer padwerke van Vrydag, 13 Desember, op Louis Fourieweg plaasvind nie.
Dit is by 'n onlangse vergadering by die Mosselbaai-munisipaliteit bevestig.
Verskeie rolspelers insluitend die munisipale bestuurder, Colin Puren, besigheidseienaars en verteenwoordigers van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, was teenwoordig.
Die vergadering is belê ná afloop van verskeie klagtes en kommunikasie van besighede se kant oor die verpletterende effek wat die padwerke op hul besighede het.
Puren het vir besighede gesê hy het begrip vir hul situasies en dat daar ongelukkig ontwrigtings sál wees, maar dat daar gekyk moet word na maniere om die gevolge te probeer aanspreek.
Hoofingenieur, Keegan de Waal, dui 'n area van Louis Fourie op 'n kaart aan.
Terwyl besighede aan die een kant gekla het oor beloftes wat nie nagekom word nie, het die hoofingenieur, Keegan de Waal, verduidelik dat verskeie faktore bydra tot aanvanklike planne wat noodgedwonge verander moet word.
Hy sê hulle moes al verskeie moeilike besluite maak en hul weet dit maak hulle nie baie gewild nie, maar dit is nodig.
De Waal sê sonder sekere van dié moeilike besluite, wat hulle noodgedwonge moes neem, sou die einddatum vir konstuksie nader aan die middel van 2028 gewees het.
Die begindatum vir die padwerke was Julie 2022 met die beplande einddatum as September 2025. Die nuwe einddatum is nou middel 2026.
Een aspek, wat veral uitgestaan het, is dat besighede voel daar word nie met hulle gekommunikeer nie. Hulle sê dit veroorsaak dat hulle nie kan vooruitbeplan vir ontwrigtings nie.
Hulle het wel gesê dat hulle nie teen die opgradering is nie, en verstaan dat daar lig aan die einde van die tonnel is, maar hulle het hulp nodig op pad na daardie lig.
Aan die einde van die vergadering is daar ooreengekom om 'n daadwerklike poging aan te wend om besighede sowel as die publiek op 'n meer gereelde basis op datum te hou van vordering asook ontwrigtings.
Die departement het ook gesê hy sal binnekort 'n lys saamstel van vrae wat gereeld gevra word en dit konstant opdateer soos inligting inkom of verander.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’