MOSSELBAAI NUUS - Skoolhoofde wat verlede week die ontbyt en aanbieding deur André Hendricks, aanbieder van die ATKV se Kopskuifprogram bygewoon het, het gehoor dat hulle meer moet lei en minder moet bestuur.
"Ons is almal gedaan van dinge en om mense die heeltyd te bestuur. Bemagtig jou span, gee hulle verantwoordelikheid. Moenie daardie kopseer wat jy kry ignoreer nie. Jy kan nie moeg en siek skool toe kom nie."
Dit is onder meer van die nuttige wenke waarmee Hendricks die teenwoordiges Vrydag, 6 Mei toegerus het.
Diaz Primêre Skool het as gasheer vir hierdie sessie en ook 'n geleentheid waartydens Hendricks met skoolbeheerliggame gewerk het op Saterdag, 7 Mei, gedien.
Hendricks het na die bestuurspan van 'n skool verwys as die enjin van die skool, wat deur hul voorbeeld behoort te lei en die voorlopers vir verandering by skole behoort te wees.
Verder propageer hy dat onderwysers aangemoedig moet word om 'n balans te handhaaf tussen hulle werk en privaat lewe, aangesien dit hulle help om beter klaskamerbestuur toe te pas.
Aan beheerliggame is sy boodskap vriendelik, dog ferm.
"Bly in jou baan, maar vervul julle taak met selfvertroue. Ek is altyd in die skoolhoof se hoek. 'n Skool se beheerliggaam moet onthou, julle word verkies, maar 'n skoolhoof word aangestel."
Hy het ook 'n lansie gebreek vir 'n skool se algemene werkers.
"Onthou, hulle is dikwels die gesig van die skool. Kyk veral mooi na jou skoolsekretaresse. Sy is 'n verlengstuk van die skoolhoof."
Hendricks het ook 'n program aangebied vir die graad 12s van Hoërskool Sao Bras, Hillcrest, Groot-Brakrivier en Indwe Sekondêre Skole.
Hy het sy kommer daaroor uitgespreek dat skole steeds nie matrieks behoorlik voorberei op hul tersiêre studie nie.
Kringbestuurder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Rozelle Smith-Neethling het ter afsluiting gesê dat opvoeders veral daarvoor verantwoordelik is om geleenthede vir die leerders in hulle sorg te skep.
"Geleenthede behoort ook onder basiese behoeftes te tel. Die leerders na wie ons omsien, het 'n gebrek aan hierdie geleenthede. As opvoeders moet ons daardie geleenthede vir hulle skep," het Smith-Neethling afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'