Die raad het na deeglike bespreking uiteindelik met ‘n meerderheid van stemme besluit dat die voorgestelde vernuwing van die gewilde Punt-area, soos beplan en ingevolge die goedgekeurde begroting, sal voortgaan.
Die ACDP-raadslid, Jeanette Gouws, het raadslid Kamfer se mosie gesteun en gesê daar kan nie met ‘n skoon gewete geld aan die opgradering van die Punt bestee word terwyl soveel inwoners in haglike omstandighede moet oorleef nie. Sy het verwys na ‘n beswaarskrif met 840 ondertekenaars wat in 2014 teen die voorgenome herontwikkeling en opgradering van die Punt hul stem laat hoor het.
Ook die hoofsweep van die ANC, raadslid Jovan Bruinders, het gesê dat die opgraderingswerk aan die Punt-area nie prioriteit bo die bestaansbehoeftes van inwoners behoort te geniet nie. Raadslid Kamfer het benadruk dat die voorgenome plan nie die steun van die groter gemeenskap het nie en het gesê geen toeris se belange kan hoër geag word as die bestaansbehoefte van veral agtergeblewe inwoners nie.
Die raadsaal was Donderdagoggend, 30 Maart tydens die raadsvergadering volgepak met besoekers wat by tye luidkeels uitlatings deur opposisiepartye oor die argumente teen die opgradering laat hoor het.