MOSSELBAAI NUUS - Die beskuldige in 'n saak van crimen injuria en aanranding het op Maandag, 26 Mei, vlugtig vir die eerste keer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Hy staan tereg op aanklagte van aanranding ná 'n onderonsie met die klaer, 'n vrou, in April.
Die voorval het na bewering op 'n parkeerterrein in Voorbaai plaasgevind.
Elke oggend plaas die klaer oranje verkeerskegels op die terrein voor die winkels uit om 'n rolstoelgebruiker daar te help om uit hul motor te klim.
Een oggend het die beskuldigde se motor glo in dié spasie geparkeer gestaan. Na bewering het hy die kegels geskuif sodat hy daar kon parkeer.
Die klaer beweer dat sy die beskuldige gevra het om sy motor te skuif, maar dat hy op haar begin vloek het.
Sy sê ná sy hom die tweede keer gevra het om sy motor te skuif, het hy haar glo rassisties beledig, in haar gesig gespoeg en een van die verkeerskegels na haar gegooi.
Die klaer het kort daarna 'n saak by die Da Gamaskop-polisiestasie op Mosselbaai geopen.
Mossel Bay Advertiser het vroeër verneem dat die beskuldige op sy beurt ook 'n saak van aanranding teen die klaer geopen het.
Hy het beweer dat sy hom eerste aangerand het, maar weens 'n gebrek aan bewyse is dié saak egter van die hofrol geskrap.
Die saak sal weer op Woensdag, 2 Julie, in die Mosselbaai-landdroshof aangehoor word, en is uitgestel vir verdere konsultasie met die beskuldigde se prokureurs.
Mossel Bay Advertiser het probeer om die beskuldigde vir kommentaar te kontak, maar kon nie daarin slaag nie.