MOSSELBAAI NUUS - As daar een ding is wat sakelui opnuut tydens vandeesweek se netwerkgeleentheid van die Mosselbaai Besigheidskamer besef het, is dat motiveringspreker Lynette Beer die vermoë het om lig in 'n andersins dikwels donker tonnel te skep.
Beer het as gasspreker opgetree by die netwerk-geleentheid wat in die Diaz Strand Hotel op Dinsdag, 21 Junie gehou is voor 'n gehoor van meer as 240 sakepersone en hul gaste.
Voor Beer met haar kenmerkende energie aan die beurt was, het beleggingspesialis Matthew Mackay van PSG, wat as borg van die geleentheid opgetree het oor die wêreldekonomie gesels.
Mackay het oorsig oor markte gegee en tot almal se verbasing genoem dat Suid-Afrika, vergeleke met verwikkelinge in die Amerikaanse ekonomie, eintlik tans beter daaraan toe is as dié wêreldmoondheid.
Persepsie en realiteit
Beer het tydens haar spreekbeurt gesels oor die verskil tusen persepsie en realiteit. Dít het sy toegelig aan die hand van haar persoonlikheidstipemodel, wat persoonlikhede kategoriseer in terme van hulle sterk en swak punte, gawes en unieke optrede.
Beer het 'n verskeidenheid hulpmiddels ontwikkel om hierdie persoonlikhede te identifiseer. Hierdie hulpmiddels word dan aangewend binne die korporatiewe omgewing sowel as mediumgrootte- en kleinsake-ondernemings om werkgewers en werknemers te bemagtig om meer effektiewe spanne te vorm.
Die vier persoonlikheidstipes noem Beer die Rasende Rooi, Gewilde Geel, Geruste Groen en Besliste Blou.
Beer het breedvoerig uitgewei oor hoe die brein effektief "bestuur" kan word om kommunikasie in die werkplek te verbeter danksy begrip vir die verskillende persoonlikheidstipes.
Sy het die gehoor gemaan om te let op hulle gedagtegang en om te waak teen negatiewe gedagtes, wat uiteindelik 'n katalis kan wees vir 'n reeks onbenydenswaardige gebeure.
"Alles wat jy dink jy kán doen, kán jy doen. Beskerm jou gedagtes."
Beer het vroeër die dag ook die Mosselbaai-tak van die South African Council of Business Women toegespreek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'