Volgens Marilize Larmour, die plaaseienaar, dui hierdie voorval op 'n "hele nuwe era van diefstal".
Larmour en haar man, Greg, vermoed dat die diewe verlede Maandagaand toegeslaan het. Hulle het die brief verlede Dinsdag in hul stoor se veiligheidshek ontdek.
In die brief vra die persoon "verskoning" vir die diefstal, in goed bewoorde Engels. Die persoon voer aan dat die wandade gepleeg is om kos aan hul kinders te voorsien. Aan die einde van die brief word die slagoffers "geseën".
Die brief is toegeplak in 'n koevert, met die woorde voorop: "To whom it may concern". Die skrif is netjies en gekrul - soos die van 'n Engelse vrou, het Larmour gesê.
Die egpaar het die storie aan heelwat van hul vriende vertel.
"Almal begin lag wanneer hulle van die brief hoor," het Marilize Larmour gesê.
"Ons gun hierdie opgevoede inbreker sy oomblik, en glo hy is werklik jammer!"
Die egpaar het 'n saak van diefstal by die polisie in Groot-Brakrivier geopen. Hulle vermis twee koper warmwatersillinders, ter waarde van R3 000, etlike gereedskap en skrootmetaal.
Greg Larmour het vroeër daardie Maandag, wat die voorval plaasgevind het, 'n bakkie by hul stoor opgemerk.
Volgens Marilize het haar man gestop en twee mans gekonfronteer.
"Die stoor is teenaan die R102 geleë," het sy gesê.
"Greg het die mans gevra wat hulle maak, en hulle het geantwoord dat hulle net rondkyk."
"Greg vra hulle toe om die perseel te verlaat. Hy het hulle daarna vir 'n entjie agtervolg in sy voertuig."
Marilize Larmour reken dat wie ook al die diefstal gepleeg het, hulle plaas goed ken.
"Die manier waarop die hek oopgemaak is, sonder om die slot te breek, is 'n teken dat hulle weet hoe dinge werk," het sy gesê.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die brief wat die dief agtergelaat het.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'