NUUTSTE NUUS: 16:20 - Paul Kruger is vanmiddag as voorsitter verkies, en Jan van Deventer as ondervoorsitter.
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se Besigheidskamer het vandeesweek hul nuwe bestuur vir die komende jaar verkies. Tydens 'n gesellige byeenkoms by die Garden Route Casino se Bravo Lounge, het die huidige voorsitter, Fanus Truter, vier genomineerde lede tot die bestuur van 10 lede verwelkom.
In 2018, sal die ervare bestuurslede soos dr Paul Kruger, Albert Wiffen, Fanus Truter, Marika Thomatos, Nico Marais, Werker Kock se geledere aangevul word deur Johan Claassen, Kelly Fourie, Mika Lutchman en Jan van Deventer.
Die nuwe voorsitter sou teen Donderdagmiddag verkies word, ongelukkig te laat vir publikasie in hierdie uitgawe. Die Besigheidskamer se algemene jaarvergadering het op Dinsdag, 17 April plaasgevind.
Die Besigheidskamer het heelwat suksesse die voorafgaande jaar behaal, die grootste waarskynlik die Streekskonferensie waar verteenwoordigers van dorpe in 'n 280km radius van Mosselbaai koppe bymekaar gesit het om te besin oor geleenthede in die toerisme en landbousektore.
"Die oogmerk was dat die onderskeie sektore in die streek deur groter samewerking waarskynlik ook die hawefasiliteite sal kan optimaliseer," berig Truter.
Hy het die vorige bestuur vir hul onbaatsugtige dienslewering bedank en sy dank uitgespreek teenoor die Mosselbaai munisipaliteit vir die goeie, bestaande wedersydse verhoudinge.
Een van die nuwe bestuurslede, Johan Claassen, het onder meer die Besigheidskamer se projek geïnisieer om 40 ton water vir die droogtegeteisterde Kaapstad in te samel en te stuur.
"Die Besigheidskamer was stomgeslaan toe 'n brief ontvang is wat gesê het dat Kaapstad nie water nodig het nie, en baie van die ingesamelde water is daarom na Oudtshoorn, wat ook 'n knellende droogte beleef gestuur waar dit aan ouetehuise versprei is."
Truter het gesê verskeie dorpe se sakekamers kontak Mosselbaai Besigheidskamer gereeld vir beste praktyk advies en bystand vir hul inisiatiewe, soos onder meer met die reël van besigheidskonferensies.
"Die volgende streeksbeleggingskonferensie sal in Oudtshoorn plaasvind."
'n Gesellige byeenkoms by die Garden Route Casino se Bravo Lounge.
Lede van die besigheidskamer.
Almal het die aand geniet.
Sakelui se kommer met voorgestelde opgraderingsvoorstelle wat deur die provinsiale regering vir die besige Lous Fourieweg voorgehou is, is ook met bemiddeling van die Besigheidskamer op hersiening geneem.
"Die Besigheidskamer bedank graag die lede wat die gewilde netwerkbyeenkomste baie goed bywoon, asook die besighede wat as gashere vir hierdie geleenthede optree. Ook die groot borge wat die Besigheidskamer se inisiatiewe deur die loop van die jaar baie goed ondersteun het, onder meer Standard Bank, Nedbank, Investec, die Effecient Group en PrePaid 24 is vir hul voortgesette bydraes bedank.
"Besighede kan uitsien na die jaarlikse gholfdag en die gebruiklike gala-aand wat ook jaarliks baie goed ondersteun word. Ek bedank elke besigheid en sakepersoon in Mosselbaai wat tot die Kwêla Dorp van die Jaar toekenning bygedra het, asook vir hul harde werk om bemarkingsgeleenthede soos die gewilde Dias & Portfees ruim te ondersteun.
"Spesiale vermelding moet gemaak word van die toekenning aan die Besigheidskamer se stigterslid, Marika Thomatos, vir die besondere bydrae wat sy tot die sakegemeenskap in die breë, en die Besigheidskamer in die besonder gemaak het."
Truter het ook die Mossel Bay Advertiser, SFM en Radio Algoa as mediaborge vir hul volgehoue ondersteuning bedank.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'