MOSSELBAAI NUUS - Noem 2020 en Covid-19 en die meeste mense kry 'n bitter trek om die mond of kies die hasepad.
Nie Johann Muller, voormalige Springbok-kaptein en -rugbyspeler wat Suid-Afrika 24 keer op die veld verteenwoordig het nie.
Johann, wat in die Mosselbaai-distrik boer, jubel oor die effek wat 2020 op die plaaslike boere het.
"Die goeie reën wat van George tot by die Namibiese grens uitgesak het, sorg vir 'n rekordoes hierdie jaar. Covid-19 en die inperkings het gesorg dat mense hul leefstyle verander en skielik kan die plaaslike boere nie byhou met die aanvraag na vars produkte nie, veral groente," het hy aan lede en gaste van die Mosselbaai Besigheidskamer, tydens die maandelikse netwerk by Salt & Copper gesê. Die melk-, koring- en canola-pryse het toegeneem en die boere kry nou 'n goeie prys vir hul produk.
Volgens Johann het die plaaslike boerderygemeenskap die afgelope drie jaar met die ergste droogte in die geskiedenis behoorlik harde bene gekou. In 2016 was die boere se skuld by SSK (Sentraal Suid Korporaie) R53 miljoen. Teen 2019 het dit tot R780 miljoen toegeneem. "Een goeie seisoen gaan ons nie weer op ons voete bring nie, maar ten minste kan ons die skuld begin delg en weer met hoop vorentoe boer," het hy gesê.
Die boerderygemeenskap het egter, nes die res van die wêreld, nie die effek van Covid-19 vrygespring nie. 'n Stroper wat verlede jaar R5,8 miljoen gekos het, verkoop nou vir R6,8 miljoen en 'n komponent vir jou masjien kan maklik sommer R150 000 kos om te vervang.
Enigiets wat ingevoer moet word se pryse het drasties verhoog.
"Ek weet julle as sakelui bloei erg onder die gevolge van Covid-19, maar ons as plaaslike boere blom. Dit gaan ons so drie tot vier jaar neem om weer te herstel, maar ons is dankbaar vir hierdie jaar wat vir ons 'n groot hupstoot gegee het," het hy bygevoeg en vertel dat hy weer met 'n lied in sy hart boer.
Tydens die byeenkoms is Mosselbaai Toerisme se nuwe vindingryke plan om meer voete na die dorp en omgewing te lok, ook bekend gestel.
Lede en gaste het tydens die maandelikse netwerksessie 'n verrassende voorskou van die veldtog gekry en almal is dit eens dat dit 'n opwindende toerismetyd vir die dorp inlui.
Die veldtog word landwyd geïmplementeer en oral sal motors, motorfietse en trokke die veldtog se boodskap, The Great Escape to Mossel Bay, visueel sal uitdra.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'