MOSSELBAAI NUUS - Bykans 'n jaar gelede het die George-mannekoor hul 40ste bestaansjaar gevier, en ook in Julie 2022 'n nuwe koorleier, Chrisna du Preez, verwelkom.
Na optredes saam met die bekende Pallisander-koor, 'n optrede in die St Mark's Katedraal, 'n troue en ander geleenthede is die koor nou besiger as ooit, met nog konserte en optredes wat wink in 2023.
Een van die hoogtepunte sover was die koor se optrede by die boekbekendstelling van die skrywer Daniel Janse van Rensburg se boek Black Beach by die Cornerstone-ateljee in Hoekwil.
Die koor sien daarna uit om in getalle en statuur te groei.
Hulle is genooi om deel te neem aan die Nasionale Manstemkoorfees in Bloemfontein in Julie waar hulle saam met vyf ander mannekore vanoor die land gaan optree.
'n Reeks van drie galageleenthede in drie verskillende dorpe aan die Tuinroete word beplan waar die koor onder meer liedjies uit Andrew Lloyd Webber-musiekblyspele sal uitvoer.
'n Toer deur die Overberg is ook in die vooruitsig en hul oorsese toer word steeds oorweeg, afhangende van befondsing.
"Die koor beskik oor 'n sterk kern van sangers, maar sal altyd kan doen met nog meer stemme om die koor verder te verbeter. Mans ouer as 18 jaar word hartlik uitgenooi om te kom aansluit by ons dinamiese span, en so ook hul talente uit te leef met sang," sê die koor se voorsitter, Paul Hoffman.
Tans is daar reeds manne uit Herold, Groot Brak en Sedgefield wat deel is van die koor, so vervoer saam met die bestaande lede is moontlik.
Die koor is veral op soek na baritonne en basse, maar almal is welkom om te kom vir 'n stemtoets.
Die koor oefen gewoonlik op Dinsdag-aande vanaf 18:30 by die Groenkloof-aftreeoord se eetsaal. Belangstellendes kan 'n WhatsApp-nota/stemnota aan die Hoffman stuur by 082 577 5302, waarna 'n reëling getref sal word vir 'n stemtoets.
Voornemende sangers is ook welkom om die koor webtuiste te besoek by georgemalechoir.co.za vir meer agtergrond.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’