MOSSELBAAI NUUS - Te danke aan sosiale media, is die hengelaar wat op Sondagoggend, 17 November op Diasstrand visgevang het en toe met 'n mes gedreig en beroof is, opgespoor.
Daan-Louis Gerber (33) het sy dank aan Executive Security se Errol de Jager (59) uitgespreek nadat De Jager sy visstok wat hy in die proses neergegooi het, opgetel het en onlangs aan hom terug besorg het.
Gerber woon in George en het 04:00 op die betrokke oggend op die strand naby die rotse vis gevang. "My eerste aas was pas aan die hoek en ek het net ingegooi toe 'n man op die strand my aandag trek." Gerber sê die man het vir hom gevra of hy 'n man en vrou op die strand gesien het, waarna Gerber "nee" geantwoord het. "Ek dink hy het dit gevra om seker te maak daar is nie nog mense in die omgewing nie." Gerber sê daar was skielik nog 'n man en hy het iets blink in die verdagte se hand gesien. "Hy het 'n handbyl gehad en my gedreig."Gerber het sy visstok neergegooi en terug gehardloop na die strandhuis waar hy vir die naweek gekuier het. Sy selfoon en viskas is deur die verdagtes gesteel, maar hulle het die visstok agtergelaat.
Intussen het 'n sekuriteitswag van Executive Security, Errol de Jager die hele petalje van die parkering by Diasstrand dopgehou. "Vroeër het dieselfde man verby my gestap terwyl ek patrollie gedoen het. Ek het nogal vir hom gevra wat soek hy dié tyd van die oggend hier soek en hy het weggeloop. Ek het hom dopgehou en toe ek sien hy praat met Daan-Louis het ek bystand ontbied. Ek het geweet hulle gaan hom beroof en het ook die blink lem van die byl gesien."
Die verdagtes het egter daarin geslaag om weg te kom en teen die tyd wat De Jager by die visstok gekom het, was Gerber reeds weg.
Die Mossel Bay Advertiser het 'n foto van die visstok op sosiale media geplaas waarna Gerber met Executive Security in verbinding getree het.
"Ek is baie dankbaar om my visstok terug te kry maar ek sal beslis nie weer daar gaan visvang nie."
Lees 'n vorige artikel: Gesoek: Hengelaar wat met mes gedreig is
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'