Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Mosselbaai presteer as een van die top vyf persent plaaslike owerhede in die land. Vandag is die begin van 'n stel geleenthede wat vir die dorp juis daarom in die vooruitsig gestel word."
"Dis egter nie net vir die dorp nie, maar vir die streek, die provinsie en, trouens, vir die res van Afrika 'n bate wanneer die tegniese opleidingsfasiliteit vir beroepsopleiding eersdaags hier 'n werklikheid word," het prof Erwin Schwella van Universiteit Stellenbosch Woensdag aan 'n uitgelese gehoor in die munisipale raadsaal gesê.
Talle belanghebbendes, wat beide Mosselbaaiers asook gaste van regoor die land ingesluit het, was byeen om in alle erns te begin beplan vir die voorgenome opleidingsfasiliteit wat veral vir die jeug geleenthede behoort te skep.
Professor Schwella het van meet af die riglyne neergelê toe hy gesê het dat die opleidingsinstituut konkrete, meetbare en implementeerbare uitkomste sal moet lewer wat werksgeleenthede en veral entrepreneuriële moontlikhede moet ontgin.
In sy verwelkoming het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die groep verseker dat Mosselbaai smag na verandering en ekonomiese groei. "Daar sal geen politieke inmenging wees nie," het die burgemeester benadruk.
Dit word in die vooruitsig gestel dat die opleidingsinstituut aanvanklik met 'n klein prototipe sal afskop, waarna dit sal uitbrei om beroepsopleiding nie net aan ambagsvaardighede vir elektrisiëns, motorwerktuigkundiges of loodgieters te bied nie, maar ook aan fynproewerbakkers of -kaasmakers.
Selfs opleiding vir die installeerders van sonkragpanele word in die vooruitsig gestel, met die uiteindelike doel dat entrepreneursvaardighede daaruit sal voortspruit.
"Mosselbaai is strategies sentraal geplaas vir die fasiliteit wat uiteindelik die BET-benadering sal volg - 'n besigheidsmodel wat vennootskappe en beleggingsgeleenthede sal ontgin; opleidingsmodel wat curriculumgedrewe voorsiening vir die moderne tegnologie sal maak; en tegnologie-model wat sal berus op die virtuele platform om die grootste moontlike toegang te verseker.
Groot opgewondenheid bestaan oor die voorgenome sentrum, wat volgens prof Schwella nie sonder die inkoop en ondersteuning van die plaaslike en provinsiale owerheid sal kan funksioneer nie.
Kyk 'n video hier:
Professor Erwin Schwella (regs) van die Universiteit Stellenbosch luister aandagtig na Floris Prinsloo, (heel links) tydens 'n aanbieding oor die voorgenome fasiliteit vir beroepsopleiding wat binnekort op Mosselbaai gevestig sal word.
ARTIKEL EN VIDEO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'