MOSSELBAAI NUUS - 'n Minuut se stilte is op Woensdag, 20 September, tydens die maandelikse skietoefening by die Pienaar-skietbaan vir Neill Calitz gehou.
Neill, die stigterslid en eienaar van die Neill Calitz Skietklub, is op 7 September ná 'n siekbed oorlede.
Hy het die klub in 1987 gestig met die doel om inwoners in die veilige hantering van 'n vuurwapen op te lei.
Talle vuurwapen-eienaars van Mosselbaai en omliggende dorpe het dié kursusse by Neill deurloop en was ook in een of ander stadium 'n lid van die skietklub. Neill se vrou, Suzette, sal voortgaan met die klub.
Woensdag
Tydens die afgelope Woensdag se skietoefening was dit Bennie van den Heever en Calie Brown wat met die .22 oor 10m geseëvier deur beide 98/100 te skiet. Kort op hul hakke wat Suzette Herrer met 97/100 en Willie Germishuys met 96.
Die res van die tellings is as volg, Hannes Ingram 94, Liam Brwon 92, Hans Willemse en Waldi Lubbe 91, Ivan Maddison 90, Danie le Roux 88, Gerrie Bester 87 en Johanna Germishuys 70.
Met die 9mm oor 10m het Hannes die voortou geneem met 48/50, gevolg deur Willie 47, Johanna 46, Calie 44, Ivan 43, Bennie 42, Gerrie 40, Waldi 20 en Hans 16.
Die klub se Oktober-kompetisie vind op Saterdag, 7 Oktober, plaas en die volgende skietoefening is op Woensdag, 18 Oktober. Beide geleenthede begin om 09:00 en vind op die Pienaar-skietbaan plaas.Vir enige navrae kontak Suzette Herrer (082 478 8090).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’