MOSSELBAAI NUUS - Sewe inwoners wat moontlike uitsetting uit Benevolent Park in die gesig staar, wag nou om te hoor wanneer hulle volgende hofverskyning sal wees.
Grady Brooks, Ray Abrahams, Christeva Breda, Marlin Breda, Ferdi Roelfse, Valencia Fourie en Daphne Clarke sou op Donderdag 13 Maart in die Mosselbaai-landdroshof verskyn om die uitsettingsbevel teen te staan, maar die saak is toe tot verdere kennisgewing uitgestel.
Volgens hulle is hul grootste eis dat die vorige bestuursraad van Benevolent Park, 'n tehuis vir bejaardes, weer beheer moet neem.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het Maartmaand verlede jaar besluit om Benevolent Park as organisasie sonder winsoogmerk te deregistreer en in sy plek 'n maatskappy sonder winsoogmerk te stig. Dié besluit is glo aangespoor deur die finansiële uitdagings wat die ouetehuis in die gesig gestaar het.
"Die entiteit is dus deur die raad as 'n niewinsgewende maatskappy geregistreer, ondanks groot teenkanting van sy inwoners en die breër gemeenskap," het Brooks gesê.
Hulle beweer dat die dienslewering by Benevolent Park ook onder die huidige bestuur verswak het.
Hierdie sewe persone beweer dat hulle heel moontlik uitgesit word omdat hulle namens ander en teen die bestuur praat.
Die presiese omstandighede van die uitsettingsbevel is nie tans aan Mossel Bay Advertiser bekend nie.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het die volgende kommentaar gelewer: "Dié aangeleentheid is tans voor die hof, en die munisipaliteit is nie in 'n posisie om te reageer hangende die regsproses nie, aangesien die aangeleentheid sub judice is."
Die Advertiser het ook na Benevolent Park se direkteure vir kommentaar uitgereik. "Ons staan by ons besluit om kommentaar te weier," het Nathan Pillay, een van die direkteure, gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’