MOSSELBAAI NUUS - Die nie-winsgewende organisasie (NWO) vir bejaardesorg op Mosselbaai, Benevolent Park, is tydens 'n algemene jaarvergadering in Augustus verlede jaar gekaap.
So het Wes-Kaapse provinsiale parlementslid, Cameron Dugmore vanoggend met 'n besoek aan dié instansie aan die media gesê.
Gedurende die vergadering waarna Dugmore verwys het, is 'n mosie van wantroue in die voormalige bestuur gestel.
Dit het gelei tot 'n ondertekende petisie asook die nominasie én verkiesing van 'n nuwe bestuur gedurende dieselfde vergadering.
Twee van dié lede het sedertdien bedank, insluitende die voorsitter, William Sam. 'n Sakeman van Mosselbaai, Herman Strydom, het daarna as voorsitter oorgeneem.
Aantygings van beweerde swak en nalatige bestuur doen reeds etlike maande die ronde en 'n swaard hang ook oor die finansiële vooruitsigte van die tehuis.
Dugmore sê 'n dokument wat die tehuis se probleme uiteensit, is op 4 Maart aan die departement van sosiale ontwikkeling gestuur, maar daar is nog geen verdere aksie van die departement in werking gestel nie.
"Wat by die vergadering gebeur het, was niks anders as 'n kaping nie. Daar is 'n grondwet van Benevolent Park en die grondwet maak dit baie duidelik wat tydens 'n jaarvergadering moet gebeur. Daar was 'n mosie van wantroue in die bestuur voor die algemene verslag gegee is. Wat tydens die vergadering gebeur het, is 'n groot probleem wat openlik aangespreek behoort te word."
Dugmore het gesê dit bekommer hom dat daar steeds geen aksie in plek gestel is om die probleme by die tehuis op te los nie.
Hy sê die mense wat by Benevolent Park bly is ou mense wat regverdigheid en 'n oplossing soek. "Benevolent Park soek sekerheid."
Dugmore het gesê hy gaan drie stappe neem. "As lid van die parlement is dit my plig om te probeer om 'n oplossing te kry."
Hy gaan vir die nasionale minister van sosiale ontwikkeling, Lindiwe Zulu, skryf en vra dat sy die situasie by die tehuis moet ondersoek. "In terme van wetgewing het sy 'n algehele verantwoordelikheid teenoor bejaarde inwoners."
Tweedens gaan Dugmore vra dat daar 'n ondersoek moet wees in terme van wat by die algemene jaarvergadering in Augustus 2023 gebeur het en of die grondwet gevolg is.
"Ek gaan versoek dat die minister 'n mediator aanstel om met alle betrokke partye te praat."
Dugmore sê hy gaan ook 'n versoek rig aan Sharna Fernandez, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, om te vra hoekom daar nog nie opgetree is in terme van die versoek wat op 4 Maart aan die departement gerig is nie.
Hy sê hy gaan ook die openbare beskermer vra om spesifiek die rol van die Mosselbaai-munisipaliteit in terme van Benevolent Park te ondersoek. "Daar is groot vrae oor die huurooreenkoms. Ons moet die instansie verdedig en in belang van die bejaardes optree. Dit is belangrik dat almal moet weet wat aangaan en dat daar nie geheime of onsekerhede is nie."
Intussen het die munisipale raad 'n voorstel aanvaar dat Benevolent Park as nie-winsgewende organisasie deregistreer en dat 'n nie-winsgewende maatskappy gestig word om te verseker dat die fasiliteit op gesonde finansiële beginsels bestuur word.
Lees meer in Vrydag se Mossel Bay Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’