MOSSELBAAI NUUS - Benevolent Park het Sondag, 4 Desember 'n kerssangfees gehou in hulle eetsaal. Die program het afgeskop met 'n trompet-solo gevolg deur 'n solis wat Stille Nag gespeel het.
Na die opening en verwelkoming het die Benevolent Park koor die gaste vermaak met hul sang en hulle is begelei deur Abe Mitas.
Burgemeester Dirk Kotzé het ook die gaste toegespreek waarna die Nuwe Apostoliese kerk se koor gesing het. Die orkes van C Harmony het die musiek verskaf.
Met Abe Mitas se aankoms in Benevolent Park jare gelede, is hy genader deur die vorige hoof van Benevolent Park, Rochelle Davids. Sy het hom gevra of hy by die koor sal betrokke raak. Met sy musiekagtergrond het hy toe die geleentheid aangegryp. Hy het oor die jare verskeie kore by die kerk afgerig.
Volgens Mitas was die senior koor maar 'n uitdagend. Die koorlede se ouderdom is van 60 tot 87 jaar oud.
Hulle het ook al verskeie plekke opgetree soos in George, Volkskerk Mosselbaai en die NG Kerk Reebok waar hulle saam met agt ander kore deelgeneem het. Hulle het ook opgetree by verskeie roudienste en feestye.
"Die gedagte om 'n sangfees aan te bied is so twee maande gelede by my gebore. Dit was ten opsigte van Advent en Kersfees. Ek het dit met die koor bespreek en almal was toe opgewonde oor die idee," vertel Mitas. Vir die geleentheid het hy uitgereik na verskillende kore. Vele gaste was uitgenooi en onder hulle was die burgermeester en sy vrou asook verskillende kerkleiers.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'