MOSSELBAAI NUUS - Benevolent Park het vandeesweek met leedwese bekendgemaak dat agt inwoners van hulle afdeling vir verswakte bejaardes aan Covid-19 verwante oorsake oorlede is.
"Sedert die begin van die inperking, het Benevolent Park se beheerraad, sy personeel en inwoners al die Covid-19-regulasies baie nougeset gevolg. Die inwoners kon geensins die aftree-oord verlaat nie. Ook besoekers is verbied om die perseël te betree," berig 'n woordvoerder vir die aftree-oord.
Ten spyte hiervan, is lewensverlies die aftree-oord nie gespaar nie.
Die eerste geval onder een van die pasiënte is in Junie aangeteken. Daar word vermoed dat die virus oorgedra is deur van die noodsaaklike werkers wat in daardie stadium geen simptome getoon het nie.
"Ons is voortdurend in kontak met die verpleegkundiges van onder andere die departement van gesondheid aangestel oor ouetehuise, asook die departement maatskaplike dienste wat die reëls en regulasies neerlê."
Volgens die woordvoerder, was alles tot en met twee weke gelede nog in orde met geen positiewe gevalle nie.
"Na die dood van twee pasiënte wat eers agterna positief getoets is, het die gevaarligte geflikker. Hierna is die volle siekeboeg se pasiënte getoets waarvan 19 positief was."
Covid-19-sale is volgens die voorgeskrewe protokol in die siekeboeg voorberei.
"Hoewel ons nie oor die mag van lewe en dood beskik nie, bly die virus angswekkend en dit is betreurenswaardig dat daar lewensverlies moes wees. Die beheerraad wil hul uiterste dank uitspreek teenoor die siekeboegpersoneel wat in hierdie omstandighede hulle bes doen en so ook hul eie lewens in gevaar stel. Ons diepste medelye teenoor die families van die afgestorwenes. Ons gee ook die gemeenskap die versekering dat ons alles binne ons vermoë doen om verdere verspreiding te verhoed."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'