MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het op 13 April die loodsvergadering van die beplande Mosselbaai Kunstefees gefasiliteer wat vir 'n volgepakte munisipale raadsaal gesorg het.
Geskoei op die lees van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees, wat reeds bykans 'n dekade lank aangebied word onder die munisipaliteit se vaandel, sal hierdie fees sy oog op ontwikkeling van die kunste asook die groei van die plaaslike ekonomie hê.
"Ons het gesien op watter wonderlike manier sport en ontspanning mense bymekaar kan bring en hoe Mosselbaai se ekonomie baat vind by die Sport- en Rekreasiefees.
Daar was verlede jaar meer as 50 sportkodes betrokke en ons móés die fees met 'n paar weke verleng danksy die belangstelling.
Die kunste kan presies doen wat sport en ontspanning doen om mense bymekaar te bring. Vandaar die gedagte om 'n kunstefees vir Mosselbaai te skep," het raadsheer Dirk Kotzé, die burgemeester, tydens die vergadering genoem.
Direkteur Elize Nel het verduidelik dat die munisipaliteit, soos met die Mosselbaai Sport- en Ontspanningsfees, 'n ondersteunende rol speel, fasiliteite en dienste gratis beskibaar stel waar nodig, en help met die bekendmaking en bemarking van aktiwiteite op alle beskikbare platforms.
Sy het uitgewys dat alle geleenthede, ook dié waarby geen munisipale fasiliteite betrokke is en wat verband met die kunste hou en aangebied word tydens dié periode, deel van die program kan uitmaak indien die organiseerders dit versoek.
'n Algemene logo ontwerp deur die munisipaliteit, sal beskikbaar gestel word om geleenthede te identifiseer om deel van die program te verteenwoordig.
Bydraes vanuit die vergadering was baie positief en dit moet gemeld te word dat die ervaring en kundigheid van diegene teenwoordig, indrukwekkend en bemoedigend vir die sukses van so 'n fees is.
Die voorlopige datums vir die fees is vanaf 31 Julie tot 26 Augustus. Die volgende vergadering, wat ten doel het om verskeie genres en diensverskaffers saam te groepeer, vind plaas op 5 Mei in die Mosselbaai-stadsaal om 12:00. Enige persoon wat graag wil inskakel, kan 'n e-pos stuur aan tlewaa@mosselbay.gov.za of ccarstens@mosselbay.gov.za
Die loodsvergadering van die beplande Mosselbaai Kunstefees, het 'n stampvol raadsaal getrek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’