Update
MOSSELBAAI NUUS - Clinton Petersen (35), alombekende en geliefde gemeenskapsaktivis en weldoener, is verlede Woensdagaand, 13 Maart in die Life Bay View-hospitaal oorlede.
Hy sal veral onthou word vir sy onvermoeide en onbaatsugtige diens aan die gemeenskap van Mosselbaai, 'n besonderse werk veral in ag genome dat hy eintlik in 'n rolstoel vasgekluister was.
Totale skok
Die nuus van sy dood is met algehele skok en verslaentheid ontvang. Oral in die dorp het mense sommer spontaan begin huil. Sy ma, Bonita Petersen, sê: "Ons het dit nie in die minste verwag nie. Niemand kan glo dat hy nie meer hier is nie." Sy jonger broer, Curtis, vind dit ook moeilik om te verwerk. "Dis so skielik en onverwags. Ons het nog die Maandag gepraat en alles het nog goed geblyk te wees. Ek weet nie hoe ons sonder Clinton gaan klaarkom nie, want hy was die raadgewer van die familie."
Clinton se dood het wye reaksie ontlok. Die familie is oorval met boodskappe van medelye en huldeblyke stroom steeds in. Sy moeder sê die ondersteuning van die gemeenskap is oorweldigend. Selfs van so ver as die Boland waar hy studeer het. Sy het nooit kon dink dat Clinton so 'n impak op mense se lewens gehad het nie. Ook sosiale media het gegons met lofbetuigings vir die liefdeswerk wat Clinton gedoen het. "Natuurlik gaan almal hom mis, want hy het 'n onmisbare rol in mense se lewens gespeel," meen Curtis. Hy sê dat die goeie herinneringe aan sy broer 'n mate van vertroosting bied.
Genadejare
Te midde van die seer, is Bonita dankbaar vir soveel genadejare wat die Here aan Clinton gegee het. Vyftien jaar gelede het hy feitlik by die dood omgedraai.
Sy is so bly dat die Here sy lewe wonderbaarlik gespaar het. "Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Clinton se dood bring nou al daardie ou pynlike herinneringe van sy ongeluk en sy daaropvolgende verlamming, terug. Dit was net so hartseer soos nou." Sy onthou dit nog soos gister hoe hy op Nuwejaarsdag, 1 Januarie 2004, teen 'n rots, by die Poort vasgeduik het. Drie van sy nekwerwels is vergruis en sy senuweeweefsel is erg beskadig. Dit het hom van sy nek af ondertoe verlam gelaat. Dokters het gesê dat hy nooit meer 'n normale lewe sou kon lei nie. Die Mossel Bay Advertiser het nog destyds daaroor berig en sy storie het ook in ander koerante opslae gemaak.
Daar is vertel van dié belowende jongman wat sy diploma in rekenaartegnologie aan die Boland Kollege verwerf het en op wie groot moontlikhede gewag het omdat hy talle werksaanbiedinge ontvang het.
Volgens Curtis was dit regtig 'n groot slag vir Clinton, omdat hy so 'n bondel energie en boonop baie aktief was.
Voor die ongeluk het hy in al wat sport is uitgeblink. Hy was ook 'n goeie studenteleier, 'n lewensredder en 'n rugbyskeidsregter by uitstek. Hy het op al daardie gebiede soveel potensiaal getoon.
Groot aanpassing
Om na Clinton om te sien was 'n geweldige aanpassing vir die familie. "Met die hulp van die Here, het ons daardie moelike pad saam met hom geloop," vertel Bonita.
Almal het gedink dat sy lewe basies sou ophou na die ongeluk, maar dis wat daarná met sy lewe gebeur het wat regtig die verbeelding van die gemeenskap sou aangryp. Sedert sy verlamming het daar 'n radikale verandering in sy lewe plaasgevind.
"Dis asof hy dankbaar was vir die ekstra 15 jaar wat die Here tot sy lewe bygevoeg het. Hy het die lewe van daardie tyd af met nuwe ywer aangepak."
"Dit was asof hy 'n nuwe lewe gekry het en asof hy sy lewe totaal wou herskryf," voeg Curtis by.
'n Lewe, wat hy vanuit 'n rolstoel, tot en met sy dood aan mensediens sou wy.
Gestremdheid
Die feit dat hy gestremd was het hom nooit van stryk gebring nie. Clinton het niks daarvan gehou om as gestremd gebrandmerk te word nie. Hy het dit gehaat as mense hom jammer kry. Hy wou hê dat mense hom so normaal as moontlik moet behandel. Clinton het geglo dat gestremdes 'n betekenisvolle bestaan kan voer en hul plek in die samelewing kan volstaan.
Hy het 'n vol lewe gelei en het geweier om as 'n welsynsgeval bekend te staan. Tot met sy dood was hy by die Mosselbaai provinsiale hospitaal as telekommunikasie-operateur werksaam. Saam met sy werk, het hy nog tyd gehad om sy ander passies uit te leef.
Clinton was 'n motiveringsspreker, 'n seremoniemeester, 'n lewensafrigter, 'n radio-omroeper by Eden FM en het selfs as vrywilliger vir SWD Rugby. Hy was ook betrokke by Saru se Boksmart-opleidingsprogramme.
Clinton was veral 'n goeie spreker. Mense kan nou nog nie uitgepraat raak oor sy besielende toespraak, I stand for... 'n paar jaar gelede by Hoërskool Sao Bras se matriekafskeidsfunksie nie. Hy het die matrikulante daarop gewys dat, as hy wat in 'n rolstoel sit kon uitstyg, des te meer kan hulle hoë hoogtes bereik.
Betrokke
Dit was sy roeping om ander te help wat 'n blywende indruk gelaat het. Clinton was by verskeie gemeenskapsorganisasies betrokke. Die jeug en opvoeding het hom baie naby aan die hart gelê. Hy sou vandeesweek met sy studies in publieke administrasie deur Unisa begin het. Clinton was 'n mentor vir studente en het hulle gehelp met aansoeke om beurse en registrasie. Met sy karige salaris, het hy ook soms finansiële bystand gelewer.
Clinton en sy vriende was tot onlangs besig om 'n jeugorganisasie op die been te bring. Hy was aktief betrokke by fondsinsameling vir Benevolent Park en Kansa. Senior burgers het hom na aan die hart gelê, asook om armoede, kindermishandeling, misdaad en dwelmmisbruik te bekamp.
Sy groot dryfveer was sy liefde vir God en sy besorgdheid oor sy medemens. Hy was baie nederig van hart en het niks daarvan gehou as mense hom ophemel nie. Hy wou net sy plig as Christen doen tot God se eer.
Sy lewe getuig van onselfsugtige diens, want sy geloof het tot aksie oorgegaan. Volgens kollegas het hy alles met oorgawe gedoen, sy entoesiasme was aansteeklik. Sy vriende noem hom 'n mover and shaker in die ware sin van die woord. Sy mensediens het hom ver buite sy gemaksone geneem. Hy kon mense bereik deur hulle te omarm, ondanks sy toestand en omstandighede. Clinton het altyd gesê dat jy jou nie van lyding kan isoleer nie. Hy het geglo dat omstandighede oral rondom jou, jou altyd 'n geleentheid gee om diensbaar te wees en om 'n verskil te kan maak waar jy is. Eenkeer het hy gesê: "You can't change the whole world, but you can save the world around you from falling apart."
Mensemens, allemansvriend
Curtis sê sy broer was 'n mensemens en allemansvriend. Hy het vrye omgang met mense van alle vlakke van die gemeenskap gehad. Clinton het volgens hom, 'n verskil in soveel mense se lewens gemaak. Sy invloed was van so 'n aard dat dit 'n plaaslike predikant aangespoor het om 'n boek oor sy lewe te skryf. Bonita sê: "Clinton het meer as genoeg gedoen, soms bokant sy eie vermoë en bo ons almal se verwagting - wat ons skaam behoort te maak. Vir hom was dit 'n lewenstaak."
"Clinton se dood laat 'n groot leemte en vermisting. Ons troos ons daarin dat al die goeie herinneringe 'n leeftyd sal duur," sluit Curtis af.
Clinton word Sondag, 24 Maart te ruste gelê. Die huisdiens is om 09:00 by Salmonstraat 41 en die kerkdiens 10:00 in die skoolsaal van Hoërskool Sao Bras, Skoolstraat.
Clinton Petersen was 'n mensemens en 'n allemansvriend.
Lees 'n vorige artikel hier: Hospitaal in rou gedompel
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'