MOSSELBAAI NUUS - Een van die Mosselbaai provinsiale hospitaal se mees geliefde stemme is stil nadat Clinton Petersen verlede week oorlede is. Petersen is verlede week, 13 Maart in die Life Bay View-hospitaal na 'n siekbed oorlede.
Huldeblyke het van oraloor op sosiale media ingestroom en selfs Eden FM het gedurende die naweek, 'n spesiale program aan hom gewy.
Kollegas by die hospitaal het kerse om Petersen te gedenk aangesteek by ontvangs, waar sy vriendelike glimlag en stem personeel, pasiënte en besoekers altyd ingewag het.
"Dit is verskriklik hartseer. Die hospitaal is nie dieselfde nie. Die glinster in ons oë het verdof," het van sy kollegas gesê. Petersen was bekend daarvoor dat hy mense se lewens positief beïnvloed het en groot genot daaruit geput het om iets vir ander te kan beteken. Hy het ook baie gemeenskapswerk gedoen.
Die hospitaal hou vandag om 14:00 'n gedenkdiens vir Petersen. Sy begrafnis is op Sondag, 24 Maart om 09:00 by die huis, Salmonstraat, Uitbreiding 13 en 10:00 vanuit Hoërskool Sao Bras se skoolsaal, D'Almeida.
Kollegas het verlede week kerse aangesteek in die ontvangs area van die hospitaal om Clinton Petersen se lewe te gedenk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'