MOSSELBAAI NUUS - ’n Geliefde inwoner van Mosselbaai, Sophia Frederika (Redri) Steyn (66), is onlangs oorlede. Steyn het vir meer as drie dekades in die dorp gewoon.
Haar familie het bevestig sy het ná ’n twee jaar lange stryd met emfiseem en hartversaking op 25 Maart gesterf - slegs dae nadat sy met fase 4 longkanker gediagnoseer is.
Steyn se dogter, Celeste, het aan Mossel Bay Advertiser gesê haar ma het in 1989 met Herman Steyn getrou, en die egpaar was in hul tyd by verskeie plaaslike ondernemings betrokke, insluitende die Video Cafe, die Hawe Kafee en Die Vispot-restaurant.
Steyn word oorleef deur haar twee kinders, Etienne Bruwer (42) en Celeste (34), asook haar jonger suster, Ane van Coller.
Haar dogter, Marguerite, is in 2012 in ’n motorfietsongeluk oorlede.
Volgens haar familie sal Steyn onthou word as ’n kunsinnige en kreatiewe persoon met ’n besondere talent vir houtsnee, asook vir haar liefde vir kosmaak. “Haar deernis vir diere was kenmerkend en het ’n blywende indruk op almal wat haar geken het, gelaat,” sê Celeste.
Die familie het hul opregte dank en waardering uitgespreek teenoor sr. Charlotte Bothma en Hospice Plett, waar sy onlangs versorging ontvang het.
“Die organisasie het ons as familie op meer as een vlak gedra, en elke personeellid het ons met deernis behandel.”
Geen begrafnisdiens of formele samekoms sal gehou word nie.
Die familie versoek dat diegene wat hulde wil bring, eerder ’n bydrae tot organisasies soos die hospice of die DBV maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’