MOSSELBAAI NUUS - Twakkies Barnard (73) bekende Mosselbaaier en gesoute hengelaar is op Maandag, 2 November aan 'n hartaanval oorlede.
Twakkies was besig om saam met 'n vriend aas by die Blinderivier op Danabaai se strand uit te trek toe hy 'n hartaanval gekry het.
Sy hartseer suster, Lea de Lange het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat sy dood vir sy broers en susters 'n groot skok is. "Ons is verlore sonder hom. Hy het nog gestaan en grappies maak toe kry hy 'n massiewe hartaanval en skielik is als verby."
Twakkies is nooit getroud nie en het nie kinders gehad nie. Hy het sy ma versorg tot sy drie jaar gelede dood is en was 'n inwoner van Heiderand.
Hy het in 1983 na Mosselbaai getrek en was lief vir hengel.
Twakkies was veral bekend in hengelkringe en word as 'n legende beskryf. Hy was jare lank by Mosselbaai-hengelklub betrokke en het ook in die meesterstoernooi gehengel.
"Hy was baie lief vir die see en het van kindsbeen af gehengel. Twakkies was 'n treindrywer en het 'n passie vir sy medemens gehad. Hy laat 'n verskriklike leemte."
'n Roudiens word Vrydag, 6 November by die Mosselbaai Moedergemeente gehou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'