MOSSELBAAI NUUS - Bianca Janse van Rensburg is reeds die afgelope paar jaar ‘n bekende gesig op die atletiekvelde in die Suid-Kaap.
Sy het in 2012 gematrikuleer waarna sy haar Afrigtings Wetenskap Diploma behaal het deur voltyds te studeer by ETA (Exercise Teachers Academy) in Pretoria.
Sy het in Desember 2015 saam met haar gesin na Mosselbaai verhuis en is in Januarie 2016 as middel- en langafstand afrigter by Hoërskool Punt ingekontrakteer.
Sy het ook die Wes-Kaap atletiekspan in 2016 vergesel as afrigter na die SA Skolekampioenskappe vir atletiek en in 2017 as afrigter en spanbestuurder.
Bianca se idee om ‘n Atletiek Winterliga in Mosselbaai te begin, het in 2016 ontstaan weens ‘n tekort aan kompetisie blootstelling in ons area.
Hierdie byeenkomste was die afgelope twee jaar baie goed ondersteun deur die gemeenskap van Mosselbaai en was dus ‘n reuse sukses waar dit verdubbel het in grootte.
In 2017 het sy ook BiFit begin waar twee oefen sessies vir persone wat oefening wou inkry in die middae by die Van Riebeeckstadion en by die amfiteater in Hartenbos plaasgevind het.
Sy was ook betrokke by die Zettie Jonker Hulpsentrum een keer ‘n week, waar sy atletiek aan die leerders bekend gestel het.
Sy het ook by Curro Mosselbaai uitgehelp met kondisionerings afrigting.
Bianca is deur WP Atletiek die pos as gebeurtenis koördineerder aangebied in Kaapstad, wat onder ander die reël van WPA se atletiek asook landloopbyeenkomste behels en sy is baie opgewonde om ook hiermee ‘n verskil te gaan maak.
Sy het ongelooflik baie in Mosselbaai geleer en wil uit haar hart uit elke persoon - van atleet, ouer, onderwyser, belangstellende en elke instansie en besigheid wat gedurende die jaar ‘n invloed en betrokke was by haar en haar besigheid, baie dankie sê.
“Mosselbaai en sy mense is baie spesiaal vir my. Ek gaan baie na julle verlang maar sal gereeld kom kuier. Nogmaals baie, baie dankie.”
Volgens Jannie Nel, bekende onderwyser en sportafrigter by Curro Mosselbaai, het Bianca Janse van Rensburg haar passie vir atletiek uitgeleef en ‘n aktiewe lewensstyl gekweek onder talle inwoners van Mosselbaai.
Sy het haar puik van haar taak gekwyt en haar entoesiasme en liefde vir atletiek gaan beslis gemis word in Mosselbaai.
Die voortbestaan van die Mosselbaai Atletiek Winterliga sal later die week bespreek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'