MOSSELBAAI NUUS - ‘n 80-jarige vrou is op Sondag, 2 Desember in die vroeë oggendure by haar woning in die Santos Haven Aftreeoord op Mosselbaai aangeval en beroof.
Volgens polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer het twee verdagtes toegang tot die woning, deur ‘n oop sitkamervenster verkry.
Die aftreeoord is omhein en beskik oor 24-uur sekuriteit. Die slagoffer se woning het nie diefwering nie.
Volgens ao Koekemoer het die slagoffer om 05:40 wakker geword en die twee mans, wat hulle gesigte met balaclavas bedek het, in haar woning aangetref. Hulle was toe reeds besig om goedere uit die ander vertrekke weg te dra. “Die televisie was reeds ontkoppel,” sê ao Koekemoer.
Die verdagtes het die slagoffer se hande vasgebind en haar mond toegebind. Sy is in haar gesig met die vuis geslaan en met ‘n mes gedreig.
Die verdagtes het na bewering ook gedreig om haar te verkrag indien sy om hulp sou roep. Hulle het die kluis oopgesluit en met verskeie juwele en ander items op die vlug geslaan.
Die slagoffer is na ‘n plaaslike hospitaal afgevoer en is intussen weer ontslaan. Volgens die polisie het hulle verskeie vingerafdrukke op die toneel gekry. “Ons hoop om vinnig ‘n arrestasie te maak.’
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus."