MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, Raadsheer Harry Levendal, direkteure en senior personeel het die afgelope week met verteenwoordigers van die National Rapid Response Task Team (NRRTT), die amptelike taakspan van die nasionale departement van menslike nedersetting, water en sanitasie oor behuisingskwessies vergader.
Die NRRTT se oogmerk, volgens die adjunkvoorsitter Mbulelo Ncedana, is om rompslomp uit die proses van dienslewering te haal en as skakel op te tree tussen die onderskeie vlakke van regering.
Die NRRTT is ook verteenwoordig deur die Wes-Kaapse voorsitter, Shaun Byneveldt.
Die Wolwedans-behuisingsontwikkeling in Groot-Brakrivier het onder die loep gekom waar vyf huise in totaal weens 'n grondglip ontruim moes word en die begunstigdes elders hervestig moes word.
Die munisipaliteit het reeds alternatiewe grond beskikbaar gemaak, die bouplanne goedgekeur en 'n kontrakteur is aangestel deur die provinsiale regering van menslike nedersettings om met die bouwerk te begin. Volgens 'n geotegniese verslag is die area waar die gesinne hervestig sal word, wel geskik vir behuising.
Wolwedans-behuisingsprojek is destyds deur die provinsiale departement van menslike nedersettings ontwikkel en 'n totaal van 675 huise is voltooi. Sekere huise het egter krake getoon en is deur die NHBRC ondersoek vir moontlike swak kontrakteurwerk.
Daar is bevind dat dit nie die geval is nie, maar moontlik eerder die gevolg kan wees van 'n grondslip. Die Provinsiale Regering het toe voortgegaan met die nodige geotegniese ondersoeke en die jongste verslag is die afgelope week eers ontvang.
Binnekort sal verdere beplanning gedoen word in lyn met aanbevelings van die verslag.
Ruiterbos
Die NRRTT is ook ingelig oor die probleme wat met tradisionele bosboudorpies soos op Ruiterbos en Jonkersberg ervaar word.
Raadsheer Levendal het verduidelik dat die gemeenskap geformaliseer is, maar dat die grond waarop dit gevestig is nie aan die munisipaliteit behoort nie. Die munisipaliteit kan gevolglik nie verbeteringe aanbring nie. Informele areas in hierdie gebiede kan ook nie uit regeringsbehuisingsprojekte voordeel trek nie.
Die grond waarop Ruiterbos geleë is, behoort aan die nasionale departement van openbare werke. Verskeie ander instansies is reeds in verband met die probleme genader, maar tans moet 'n beginselbesluit op nasionale vlak oor die dilemma geneem word.
Mbulelo Ncedana, raadsheer Harry Levendal, Shaun Byneveldt en raadsheer Cliffie Bayman, voor, saam met Johan van Zyl, Elize Nel, die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, Nicky van der Westhuizen, onderburgemeester Dirk Kotzé, Carel Venter, Logan Duthie, raadslid Anton Dellemijn en raadslid Niklaas Booisen.
Jonkersberg
Die gemeenskap van Jonkersberg het as tipiese werkersbehuising ontstaan en tans woon sowat 100 persone in die 23 strukture en word slegs basiese dienste gelewer. Drinkwater word bekom van 'n interne retikulasiesisteem en elektrisiteit word direk van Eskom verkry.
Die inwoners sal ingevolge munisipale beleide vir deernissubsidies kwalifiseer. Daar is geen werksvooruitsigte nie sou die bosbou-ontwikkeling in die area staak.
Die NRRTT het die onderneming gegee om indringend ondersoek te doen na die probleme en bygevoeg dat die afgelope week se besoek die aanvang van 'n proses van skakeling sal wees.
"Ons sal die pad saam met julle stap," het mnr Byneveldt onderneem. "Prosesse moet diensleweringsgedrewe wees."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'