MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het in samewerking met die Wes-Kaapse provinsiale regering - wat die mandaat het om subsidiebehuising te voorsien - 'n behuisingsvoorsieningsprogram goedgekeur wat oor 10 – 15 jaar die behuisingsagterstand in die munisipaliteit sal aanspreek.
Behuisingsprojekte word deur die provinsiale en nasionale regering befonds, terwyl slegs die beplanning en implimentering daarvan in samewerking met die munisipaliteit plaasvind.
Suksesse
Suksesvolle projekte wat die afgelope tyd geïmplimenteer is, is onder meer in Friemersheim (190 huise), Wolwedans (675 huise), Asazani (477 huise) in KwaNonqaba, asook 'n verdere 200 PHP-huise in KwaNonqaba. Hierbenewens is 320 gedienste erwe in KwaNonqaba, 152 huise in Sonskynvallei (deel van die Powertown-hervestigingsprojek) voorsien.
Herbertsdale
Die munisipaliteit is nou besig met 'n projek van 154 huise op Herbertsdale en ook met die laaste fase van dienste en topstrukture, oftewel wonings (256 huise) van die Asazani-projek. 'n Verdere 606 huise op Sonskynvallei is in finale fase van beplanning, met ander projekte wat insluit die opgradering van al 21 informele nedersettings wat 3 600 gedienste erwe daar gaan stel en die Louis Fourie-behuisingsprojek op Gedeeltes 13/14, wat ongeveer 1 000 verskeie behuisingsgeleenthede gaan meebring.
As deel van die behuisings-voorsieningsprojek, oftewel die behuisingspyplyn, si daar ook behoeftes geïdentifiseer in Toekoms, Groot-Brakrivier en dele van Mosselbaai waarvoor beplanning waarskynlik in die afsienbare toekoms sal begin.
Sonskynvallei
Verskeie projekte gee aandag aan gemeenskappe se spesifieke behoeftes, soos die koppeling van 'n badkamer aan die bestaande 120 huise vir gestremdes en bejaardes, asook die uitbreiding van bestaande huise in Sonskynvallei.
Saam met die provinsiale regering is die munisipaliteit besig om grondeienaarskap te bevorder deur eiendomstitels te bewerkstellig by historiese projekte waar oordrag van eiendomme om verskeie redes onsuksesvol was.
Die projek, genoem die titel herstelprojek of "title restoration project" beoog om 2 530 eiendomstitels aan families wat in die verlede 'n staatsubsidie ontvang het oor te dra.
Om deel te neem aan 'n vorm van staatsub-sidiebehuising moet 'n persoon se naam geregistreer wees op die behuisingsaanvraag databasis, oftewel "housing demand database", ook bekend as die behuisingswaglys.
Om te kwalifiseer moet aansoekers 'n Suid-Afrikaanse burger wees, nog nooit voorheen eiendom besit het nie en daar word voorkeur gegee aan persone met 'n gesamentlike huishoudelike inkomste het van R3 500 en minder.
Die behuisingskantoor in KwaNonqaba en Groot-Brakrivier kan besoek word om aansoek te doen, of kontak Riaan Pienaar (044 606 5187) of Melanie Pienaar (044 606 5237).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'