MOSSELBAAI NUUS - Tydens die maandelikse raadsvergadering verlede week, 31 Maart het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé die Mosselbaai-munisipaliteit se konsepbegroting ter tafel gelê wat onder meer die voorgestelde tariefverhogings vir die komende jaar en die bedrae wat vir kapitaalprojekte voorgestel word, uiteensit.
Hy het beklemtoon dat wysigings aan die konsepbegroting gemaak kan word, veral ná die gemeenskapsvergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) in die komende weke.
"Die volhoubaarheid van die munisipaliteit bly een van ons topprioriteite oor die langtermyn en ons ondersoek voortdurend innoverende oplossings om ons volhoubaarheid te verseker.
Met volhoubaarheid 'n vernaamste oorweging en om voortgesette uitnemende dienslewering te verseker, is tariefverhogings vir die 2022/23 boekjaar tot die minimum beperk. Die munisipaliteit is egter nie geïsoleer van die inflasionêre druk op bedrywighede nie."
Kotzé het benadruk dat Mosselbaai in die gunstige posisie is om 'n Beleggingsgraad A+ Nasionale Kredietgradering te handhaaf.
Hy het daarop gewys dat Mosselbaai die voorkeurbestemming vir Suid-Afrikaners is wat in die omgewing hervestig. Hoewel sommige afgetredenes is, dui navorsing dat die meerderheid in die ouderdomsgroep 20 - 45 jaar is.
Konsepbegroting en GOP
Met 'n ekonomie van R 7,11 miljard het Mosselbaai 'n inkrimping van 7,4% weens die Covid-19-pandemie gely.
Die konsepbegroting maak voorsiening vir R1, 410 858 226 vir die operasionele begroting, terwyl die kapitaalbegroting van R374 243 623 wat ter tafel gelê is, deur R192 600 493 se eie befondsing befonds word; R71 500 000 se nuwe lenings, en R110 143 130 deur toekennings en toelaes. Die skuld-tot-inkomste-verhouding is 8%.
Sowat 80% van die begroting sal gebruik word vir die grootmaataankope van elektrisiteit en water, skulddelging (depresiasie) en werknemerkoste.
In die komende jaar, en vir die eerste keer in etlike jare, sal die munisipaliteit meer personeel in departemente soos stadsbeplanning aanstel om die druk op die bestaande personeel te verlig. Dit sal daartoe lei dat die begroting vir personeelkoste met sowat 10% styg. Die toename in inwoners veroorsaak 'n proporsioneel verhoogde vraag na munisipale dienste. Die huidige munisipale salarisrekening is onder 27%, ruim binne die aanvaarde norm van 35%.
Bekostigbaarheid
Kotzé het uigebrei dat van die redes waarom mense Mosselbaai bo ander dorpe kies, is die bekostigbaarheid en uitnemende dienslewering. Wanneer die eiendomsbelasting vir huise in die R2 miljoen-prysklas vergelyk word, (Bitou - R660; Oudtshoorn - R1 600; Hessequa - R1 155; George - R1 200; Kannaland - R2 165, Mosselbaai - R450) is Mosselbaai verreweg die mees bekostigbare dorp in die Wes-Kaap.
Voorgestelde tariefverhogings vir 2022/23:
- Die voorgestelde elektrisiteitstariefverhoging is 7%, in ooreenstemming met die NERSA-tariefriglyn
- Die voorgestelde eiendomsbelastingtariefverhoging is 9% - NB - vanaf een van die laagste basisse in die Wes-Kaap
- Die voorgestelde verhoging vir vullisverwyderingstariewe is 8%, en
- Die voorgestelde verhoging in water- en riooldienstetariewe 4%.
Verligtingsmaatreëls vir huishoudings
Die gewone kredietbeheer-maatreëls om residensiële huishoudings in die veilig-heidsnet vir bystand te kry, geld steeds.
Hierdie vangnet is in die vorm van huishoudelike subsidies vir hulpbehoewende en afslagsubsidies aan kwalifi-serende pensioenarisse.
Die voorgestelde begroting stel ook 'n nuwe kwalifiserende maatstaf van R125 000 eiendomswaardasie vir hulpbehoewende huishoudings.
Groei
Van die groot projekte wat die munisipaliteit aanpak om voorsiening vir groei te maak sonder om dienslewering in te boet, sluit in:
- Waterprojekte - R22.5m (2022/2023) / R22.9m (2023/2024)
- Rioolprojekte – R71.7m (2022/2023) / R38.4m (2023/2024)
- Elektrisiteitsprojekte – R17,9 m (2022/2023) / R9m (2023/2024) sonder NEF, R13m
- Padprojekte – R49,5m (2022/2023) / 19,5m (2023/2024), (R400 miljoen wat aan die Louis Fourieweg-opgradering bestee word uitgesluit).
- Stormwaterprojekte – R16m (2022/2023) / R12m (2023/2024), en
- Behuisingsprojekte – R266m (2022/2023) / R241m (2023/2024) / R310m (2024/2025) / R190m (2025+).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'