MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit duld nie bedrog nie, veral nie wanneer een van hul eie personeel ter sprake is nie. 'n Werknemer wat in April 2017 bedrieglik voorgegee het dat hy werkloos is sodat hy in aanmerking kan kom vir staatsbehuising, het onlangs sy rieme in die Mosselbaai-landdroshof styfgeloop.
Nadat die werknemer 'n beëdigde verklaring by die KwaNonqaba-polisie afgelê het waarin hy bevestig het dat hy werkloos is, het die behuisingsafdeling die bedrog ontdek toe die behuisingsaansoek verwerk is.
Op 29 September 2017 het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee persoonlik 'n klagte van bedrog teen die werknemer by die Mosselbaai-polisiestasie aanhangig gemaak.
Die saak is na die KwaNonqaba-polisiestasie oorgeplaas waar dit deur sersant Rudi Swanepoel ondersoek en voor die hof gebring is.
Die werknemer het skuldig gepleit. Aangesien hy geen vorige oortredings vir bedrog het nie, is hy gevonnis tot 'n boete van R4 000 of agt maande gevangenisstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is met die voorwaarde dat soortgelyke misdrywe nie weer gepleeg word nie.
"Mosselbaai-munisipaliteit is baie trots op 'n puik rekord as die beste munisipaliteit in die land, 'n prestasie wat toegeskryf kan word aan die eerlike en harde werk van die personeel wat besonder hard werk om hierdie toekenning deur Good Governance Africa te handhaaf.
Bedrog kan en sal daarom nie geduld word nie," berig die munisipale woordvoerder, Colin Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'