MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai munisipaliteit maan die publiek teen die jongste bedrog met vakansiehuisverhuring wat aan die lig gekom het.
Ten minste vier voorvalle is aangemeld van vervalste diensterekeninge wat deur gewetenlose swendelaars gebruik word om niksvermoedende vakansiegangers 'n rat voor die oë te draai.
Dit blyk dat vakansiegangers wat akkommodasie probeer bekom vir bewyse vra dat die woonplek wel bestaan, juis om hulself teen bedrog te probeer vrywaar.
Die swendelaars bied dan afskrifte van onlangse munisipale diensterekeninge, selfs ander diensterekeninge soos DSTV en bankstate aan die huurder as bewys dat die blyplek bestaan en dat dit 'n veilige transaksie is.
Die vakansieganger betaal daarna die voorgeskrewe deposito oor aan die swendelaar, net om daarna niks weer van die persoon te hoor nie.
Dit blyk dat die diensterekeninge baie professioneel vervals is sodat die veranderinge nie opsigtelik is nie.
Die eienaar van 'n huis in Paardekraalweg in Hartenbos het selfs al self ook 'n advertensie op 'n aanlynblad geplaas om voornemende vakansiegangers te waarsku dat haar huis nie vir vakansieverhuring beskikbaar is nie.
"Daar het nou al verskeie sodanige voorvalle onder die munisipaliteit se aandag gekom wanneer die vakansiegangers om hulp aanklop om die swendelaar te probeer opspoor.
"Die regmatige eienaar van eiendomme weet van geen sout of water, en die swendelaar is vort met die geld."
Hierbenewens het bedrieglike transaksies ook op facebook aan die lig gekom, waar eienaars van huise in Mosselbaai berig dat foto's van hul huise sonder hul medewete of toestemming geplaas is.
Hierdie identiteitsdokument word na bewering ook gebruik om voornemende vakansiegangers 'n rat voor die oë te draai.
In een geval, beweer 'n vrou sy het al by vier geleenthede op foto's van haar huis op webtuistes afgekom, hoewel haar huis gewis nie vir vakansieverhuring beskikbaar is nie.
"Ons doen 'n beroep op inwoners om nie vertroulike inligting soos diensterekeninge weg te gooi sonder dat hulle dit versnipper nie.
"Moenie enige posstukke met vertroulike inligting, soos geboortedatums of bankrekeningstate weggooi sonder om dit te snipper nie," maan die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'