MOSSELBAAI NUUS - 'n Bedrieër, wat glo vandeesweek van die Mossel Bay Advertiser se vryskutfotograwe uitgevang het, se naam duik skynbaar oral op in verband met skelmstukke.
Volgens inligting het 'n man, wat homself bekend gestel het as Magnus Rossouw, Dinsdag omstreeks 10:00 met 'n plaaslike NG-gemeente kontak gemaak en gesê dat hy yskasprobleme ervaar en dat hy die vleis wat daarin gestoor word wil skenk aan die barmhartigheidsdiens.
Die vryskutfotograwe wat beide by die kerk se barmhartigheidsdiens betrokke is, het onverwyld met twee voertuie na die gegewe adres in Ruiterbos vertrek om die beloofde vleis te gaan haal sodat behoeftige gesinne daarby kan baat vind.
Met die beskikbare kontant by hulle, het die vryskutte by 'n vulstasie gestop en ongeveer R200 se lugtyd gekoop.
"Ons was skaars op pad toe die man weer bel en vra of ons dalk die nommers op die bewys kan deurgee aangesien die vrou in die kantoor dringend bestellings moes uitkry. Ek het nog gevra na die adres, maar die man het net gesê dat ons reguit moet aanry, ons sal sy sekuriteitswag by die plaashek sien."
Met hulle aankoms in Ruiterbos, het die vryskutte besef die adres bestaan nie en dat hulle bedrieg is.
"Toe ons 'n internetsoektog doen, het die naam Magnus Rossouw oral opgeduik in verband met talle aantygings van bedrog."
Volgens inligting het 'n plaaslike ouetehuis ook onder dieselfde bedrieër deurgeloop.
Teen druktyd kon die spesifieke bedrogsaak nog nie deur die Mosselbaai-polisie bevestig word nie.
Die kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer het by navraag gesê dat die publiek weer eens gemaan word om nie goedsmoeds geld in te betaal vir dienste en produkte nie.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'