MOSSELBAAI NUUS - Elke vrou asook viervoetige kind verdien om vertroetel en bederf te word.
Dit is presies wat Hartenbos Seefront in samewerking met die Garden Route SPCA (GRSPCA) en Alcare van Albertinia beplan om hierdie Vrouemaand te doen.
Op Saterdag, 14 Augustus vanaf 10:00 beplan dié drie organisasies om die vroue van die omgewing met gratis skoonheidgeskenke te bederf om hul mooi en spesiaal te laat voel.
In ruil vir ‘n heerlike dagroom of gelmasker bring jy ‘n bederfie vir ‘n dierekind saam. Dit kan kos, spesiale bederfie, kombersies of donasies wees. Al die bederfies sal aan die Mosselbaai en George tak van die DBV geskenk word.
Hartenbos Seefront wil dankie sê aan al die vroue wat hul deur die jaar ondersteun en daarom word die geskenkies uitgedeel. Alcare, wat bekend is vir hul hoë gehalte uitvoer skoonheidsprodukte het hande gevat met Seefront om hierdie vroue klante spesiaal te bederf.
Volgens Jeanetta Marais, voorsitter van die GRSPCA is hulle opgewonde om deel te wees van hierdie projek.
“Ons wil graag al ons dierekinders, nie net die wyfies nie, bederf en wat ‘n beter manier om dit te doen met hierdie wen-wen-inisiatief. Ons is almal deur ‘n baie moeilike tyd die afgelope meer as ‘n jaar en almal verdien ‘n bietjie bederf,” het sy aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'