MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste se volgende byeenkoms vind op Donderdag, 3 Mei om 08:30 vir 09:00 by die The Barn / Reed Valley plaas. Die tema van dié demonstrasie is, Gourmet-etes tuis vir Moedersdag.
Karen du Plessis van Kitchen Queen Food Studio in George sal die sjef wees by hierdie geleentheid. Sy bedryf 'n byderwetse kookskool waar spesialiteitsklasse op 'n besonderse manier vir die leek aangebied word.
Karen het haar opleiding by die bekende sjef Francois Ferreira ontvang en gaan demonstreer hoe om die volgende geregte te maak: hoender-en-pancetta-roulade met 'n béarnaise-sous; Le Croque Madam met mosterd-bechamel; tuisgemaakte pasta – gnocchetti met pesto-en-tamatiesous en 'n wit- en donker sjokolade-pannekoek-torte met 'n malvalekker-bolaag.
Brendt Meyer sal van die spogwyne uit die kelders van The Barn / Reed Valley vir proe aanbied om hierdie geregte te komplimenteer.
Dit gaan beslis 'n uithalerdemonstrasie wees met baie om te geniet en te leer. Gaste is hartlik welkom en kan Elaine Louw (083 263 5417) kontak om plek te bespreek. Koste van kaartjies beloop R170.
Alle belangstellendes word ook genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle slagspreuk is: "Niemand hier is kenners nie. Ons leer almal gesellig saam."
Vir meer oor die gassjef, Karen du Plessis, besoek by www.kitchenqueen.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'