MOSSELBAAI NUUS - Die 2025 SWD Premier-eindstryd tussen die Barbarians en Progress se B-spanne is voorafgegaan deur 'n groot opgewondenheid onder hulle ondersteuners.
Volgens meningpeilings op sosiale media in die aanloop tot die ligafinaal was Progress die gunstelingspan om met die louere weg te stap.
Die Barbarians met hul vlugvoetige agterlyn en veel ligter agttal as dié van Progress het egter gewys dinamiet kom in klein pakkies.
Met die eindtelling 50 - 28 in die Barbarians se guns op 'n volgepakte Outeniquapark het hulle weereens die rekordboeke herskryf.
Martinus Adonis, trotse kaptein van die wenspan met die beker.
Babaas, wat verlede jaar naelskraap teenoor Heidelberg verloor het, was hierdie jaar onstuitbaar tot en met die eindstryd.
Dit was hulle dissipline en fiksheid wat van hulle die beter span gemaak het.
Hulle ligter pak voorspelers het nie 'n tree teruggestaan vir Progress se swaargewigte nie. Hulle het by tye met hul kenmerkende rolmaalbewegings Progress onder hewige druk geplaas.
Ook in die vaste fasette, veral in die skrums, het Babaas stewig teen die opponente vertoon, terwyl hul kaptein, die veteraan Tino Adonis (slot), meesterlik in die lynstane was.
Nigel Prins (losskakel) met sy dodelike skopvoet was die puntemasjien vir die wenspan.
Sy 28 punte sluit in vyf strafskoppe, vier doelskoppe en 'n drie, wat deurslaggewend was vir die Barbarians se oorwinning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’