MOSSELBAAI NUUS - Bridgton word nie maklik op hul tuisveld geklop nie, maar verlede Saterdag moes hulle omtrent swoeg vir ’n oorwinning teen ’n begeesterde Barbarians-span.
Die tuisspan het dié opwindende kragmeting met 21 - 17 voor ’n groot skare gewen. Hulle kon hulself gelukkig ag om met eer uit die stryd te tree; dit kon net so maklik Babaas gewees het.
Vuurwerke was daar beslis. Vanaf die afskop het die tuisspan druk op die besoekers geplaas, nie net met hul opwindende hardlooprugby nie, maar ook in die vaste skrums vir die eerste 20 minute van die wedstryd.
In die vierde minuut het Bridgton binne trefafstand ’n strafskop gekry weens ’n oortreding deur die Barbarians in ’n vaste skrum. Wat die eerste drie punte vir die tuisspan moes wees was egter mis. In die 10de minuut is die besoekers egter weer gestraf, en dié skop was suksesvol.
Die tuisspan het vir die eerste 20 minute gebiedsvoordeel geniet met hul blitsige agterlyn wat die een aanval na die ander geloods het. In die 15de en 17de minuut breek die damwal toe Bridgton Babaas se doellyn vir twee vyfpunters oorsteek.
Met die telling 17 - 0 in Bridgton se guns het dinge vir die Barbarians nie goed gelyk nie.
Boonop het een van hul sleutelspelers nog ’n geel kaart ook gekry. Babaas is genoodsaak om ’n paar veranderings voorlangs aan te bring bring - ’n goeie besluit. Skielik was die tuisspan se vaste skrums nie meer so effektief nie.
Die besoekers se Shernan Josephs (slot) het in die 30ste minuut met een van sy kenmerkende kraglopies oor die doellyn gegaan vir sy span se eerste punte. Dewanley van Rensburg (losskakel) se doelskop was in die kol.
Die Barbarians se ondersteuners het behoorlik saam gepraat. Met die telling op 15 - 7 in Bridgton se guns het die manne gaan water drink.
Nes die eerste helfte was daar in die tweede geen tekort aan vuurwerke nie. Hier het die Barbarians die botoon gevoer, maar hulle kon nie die uitklophou plant nie.
In vergelyking met ’n paar mis duikslae in die eerste helfte was die Barbarians se verdediging in die tweede opgeskerp. Dus kon hulle vir die duur van die tweede helfte Bridgton van hul doellyn af weghou. Hulle enigste punte was twee geslaagde strafskoppe.
Babaas se Riachayno Simmons (vleuel) het die enigste drie in die tweede helfte gedruk, terwyl Jason Jafta (heelagter) met die doelskop en ’n strafskop geslaag het.
Die Barbarians se B-span, wat nog onoorwonne is, het in ’n opwindende wedstryd vir Bridgton met 34 - 19 geklop. Die C-span het met 27 - 15 vasgeval.
Die Barbarians meet op 19 Julie teen Progress van George kragte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’